|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Met AfriForum aan hul kant, het die Barolong Boo Seleka-koninklike familie hierdie week ’n groot oorwinning in die Hoogste Hof van Appèl behaal wat beslis het dat kgosatsana (prinses) Moipone Moroka geregtig is om haar broer kgosi Gaopalelwe Moroka as leier op te volg.

Daar was ’n dispuutgroep wat glo ontevrede was dat ’n vrou in hierdie senior tradisionele leiersrol dien. Ná ’n gebrekkige verslag opgestel is, is daar beslis dat Moroko se leierskap beëindig moet word. Sy het met die hulp van AfriForum teen dié besluit geappelleer en die hof het onder meer beslis dat die appèl met koste toegestaan word.

“Sommige glo in strydwaens, ons het en glo steeds in God. Ons gee Hom die eer van hierdie oorwinning. Ons stort trane van blydskap, ons het nie genoeg woorde om AfriForum te bedank vir hul ondersteuning gedurende hierdie uitdagende tyd nie,” sê kgosatsana Gabo Moroka, woordvoerder van die koninklike familie.

AfriForum se Rustenburg-tak het in Maart hul volhoubare skoonmaakprojek voortgesit en drie hektaar gras gesny en 40 vragte vullis weggery.

In Witbank het fase twee van die projek om die gebied rondom skole te beveilig afgeskop. Die tak het die ontbrekende padtekens rondom die Laerskool Taalfees vervang wat reeds geruime tyd weg is en die lewens van kinders in gevaar gestel het. Tydens die eerste fase van die projek is spoedhobbels en stoptekens op die pad rondom Laerskool Taalfees en Robert Carruthers School oorgeverf.

AfriForum se Groter-Moot-buurtwag in Pretoria het ’n daggaplantasie tussen 24ste- en 25ste Laan en Hertzogstraat uitgehaal. Die dagga word oop en bloot verhandel en die spruit word as ’n hidroponiese kwekery daarvoor gebruik. Al die plante is vernietig.

Die watergehalte in Frankfort het drasties verbeter nadat AfriForum die Mafube Munisipaliteit gemaan het om die waterkrisis in die dorp binne 24 uur aan te spreek. Laboratoriumtoetse het vandeesweek getoon dat daar geen E.coli of enige fekale koliform in die water is nie maar die uitslae van die dieselinhoud in die water is nog uitstaande.

Soortgelyke plasings