|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Dit was ’n woelige week in AfriForum-geledere met verskeie skoonmaak- en regrukaksies wat by verskeie takke aangepak is.

Die AfriForum-tak in Sasolburg het die afgelope maand weer onverpoosd gewoeker met grassny-aksies om die dorp netjies te hou. Altesaam 76 ha gras is gedurende Maart gesny. Die sypaadjies is ook op verskeie plekke oopgespit en afgesaagde bome is opgesny.

Die tak is ook versoek om te help nadat daar ’n brand by Toni’s Fishing Paradise uitgebreek het. ’n Paar lede het vinnig opgetree en die brand is met blasers geblus.

Altesaam 1 625 kg teer is in Krugersdorp gebruik om 72 slaggate in Munsieville, Krugersdorp-Noord, Dan Pienaarville, Silverfields en Rand-en-Dal te vul.

Die AfriForum-tak in Heilbron het met ’n skoonmaakprojek in Langmarkstraat begin. Ondanks reën en gure weer het heelparty gemeenskapslede en leerders van die plaaslike skool opgedaag om ’n verskil in hul dorp te maak. Die gemeenskap het toerusting geskenk of geleen sodat die gras gesny en die vullis opgetel kon word. Alhoewel die projek nog nie voltooi is nie, maak dit reeds ’n reuseverskil.

Dis lankal nie meer ’n geheim dat die AfriForum-groentetuin in Bethal goed op dreef is nie. Hierdie week is 80 kg spinasie aan die Bethal-sopkombuis geskenk. Gedurende die 2021/22-seisoen is daar reeds meer as een ton spinasie, 120 kg uie, tamaties en mielies geoes. Van die groente is ook na ander dorpe in die omgewing versprei en verskeie organisasies het daarby gebaat.

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het saam met Green Thorn Environmental Solutions, ’n maatskappy met van die beste kundiges wat die beheer van indringerplante betref, begin om riete te sny en indringerbome af te saag in die vloedvlakte van die Mooirivier. Die indringers het dikwels tydens swaar reënval oorstromings veroorsaak omdat die watervloei belemmer is. Al die bome wat afgesaag is, is met onkruiddoder behandel. Volgens Green Thorn is dit baie doeltreffend en behoort daar dus baie min hergroei voor te kom.

Die AfriForum-tak in Upington het verskeie aksies tydens hul #VegEnBou-week aangepak. Gras is gesny, tuine en paaie is skoongemaak en honderde sakke vullis is weggery.

Soortgelyke plasings