|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek nog ’n groot stap geneem om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en te bewaar met die bekendstelling van AfriForumTV.

Die organisasie se takke en buurtwagte regoor die land het ook aan ’n massapatrollie deelgeneem ter bevordering van gemeenskappe se veiligheid.

AfriForumTV bied reeds ’n reuseverskeidenheid van programme in Afrikaans met nuwe inhoud wat gereeld bygevoeg word. Die platform is tans aanlyn en op Android-toestelle beskikbaar met IOS wat eersdaags ook toegang sal bied. En om alles te kroon is dit alles gratis!

Die AfriForum-buurtwagte regoor die land het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF’s, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 8 April 2022 in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep.

1 619 patrolleerders het aan dié patrollie deelgeneem en ’n totaal van 41 051 km is in 1 216 voertuie afgelê. 92 insidente is gerapporteer en hanteer.

AfriForum het ’n aanmaningsbrief ingedien wat ook as die organisasie se geskrewe kommentaar dien oor die wysigings aan sekere regulasies kragtens die Nasionale Gesondheidswet. Dit volg nadat die regering nuwe gesondheidsregulasies gepubliseer het wat die veronderstelde tydelike gesondheidsmaatreëls wat tydens die ramptoestand van krag was, permanent sal vervang.

Die voorgestelde regulasies val onder meer buite die beoogde omvang van die wetgewing en dupliseer ook sekere maatreëls wat voorheen deur die howe geskrap is. Laastens is hierdie regulasies ook irrasioneel en onwettig.

AfriForum wil lede van die publiek daaraan herinner om hulle individuele kommentaar oor die konsepregulasies voor 15 April in te dien.

Die Teks-buurtwag (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda) spog met ’n nuwe hommeltuig en twee nuut opgeleide hommeltuigvlieëniers. Hommeltuie word met groot sukses tydens buurtwagaktiwiteite ingespan en word ook gebruik om die gemeenskap te help beveilig en ondersteuning aan die SAPD te bied.

Ebert Myburgh en Jan du Plessis

AfriForum en AfriForum Jeug se Weskus-tak het op 10 April 2022 moue opgerol en ’n skoonmaakaksie in samewerking met die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op die strand by Spreeuwalle aangepak. Altesaam 33 persone het minstens tien vullissakke se rommel opgetel en verskeie ou seeboeie weggery.

Soortgelyke plasings