|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum-takke het vandeesweek verskeie projekte aangepak om munisipale verval teen te werk. Die Kempton Park-tak het die organisasie se heel eerste #MyWoonbuurt-projek van stapel gestuur saam met die inwoners van Janina Village. Tydens dié projek is slaggate gevul, spoedhobbels oorgeverf, ingangshekke opgeknap, bome gesnoei, ’n stormwaterdrein skoongemaak en padtekens vervang.

Die Heilbron-tak het nie net die park reg langs die Ngwathe-munisipaliteit skoongemaak nie, maar ook die area rondom die munisipale gebou en die biblioteek. Die taklede het ingespring en die gras gesny, beddings weer netjies gemaak en die bome skoongesny. Dié tak het ook ’n aanmaningsbrief aan die munisipale bestuurder gestuur nadat dit aan die lig gekom het dat mense steeds in die ou begraafplaas begrawe word ná dit reeds in 2017 vol verklaar is.

AfriForum se Keimoes-tak het hul volhoubare skoonmaakprojek voortgesit deur die hoofstraat en Waterwiel skoon te maak, asook die toilette oorkant die Waterwiel wat deur toeriste gebruik word. Die tak het ook die gesteelde kennisgewingborde vervang wat aandui dat rommel in die asblikke gegooi moet word.

In die Vrystaat het die Rayton-Heuwelsig-tak in Bloemfontein ’n volhoubare projek in samewerking met City Run en DA-lede aangepak. Vragte rommel en tuinvullis is weggery. Verskeie ander skoonmaakprojekte is ook in die res van die stad aangepak.

Die Benoni-tak het drie projekte voltooi deur gras te sny, bome te snoei en rommel op te tel. Dié tak het ook instandhoudings- en herstelwerk by kinderhuise gedoen.

Die AfriForum-buurtwagte was net so bedrywig soos die takke en heelwat verdagtes is aangekeer. Een verdagte is in Vryburg aangekeer nadat die AfriForum- en verskeie ander buurtwagte verdagtes agternagesit het nadat ’n kitsbank opgeblaas is. Verder het die Apiesrivier-buurtwag in Pretoria twee vermeende kabeldiewe aan die metropolisie oorhandig nadat hulle gereageer het toe twee boere van die omgewing die buurtwag om hulp genader het.

Die AfriForum-buurtwagte in Mpumalanga het ’n opleidingsdag bygewoon wat uit drie modules bestaan het, nl. regs-en-risiko-opleiding, toneelhantering en gebeurlikheidsbeplanning. Hierdie opleiding bemagtig buurtwaglede, wat dikwels eerste by misdaadtonele is, met die nodige kennis.

Matteus en die res van die teenboelieveldtogspan het verskeie skole besoek om leerders in te lig oor afknouery en om hulle met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om boeliebestand te wees. Die span het Parkdene Primêr in George, Hoërskool Calitzdorp, Gamka-Oos Primêr (Calitzdorp), Excelsior Primêr (Calitzdorp) en Laerskool Saamspan in Pretoria besoek.

Matteus en Johan Louw van Parkdene Primêr in George

AfriForum gaan ook die ANC se nuutste poging om eiendomsreg te bedreig teenstaan. Dit volg nadat die ANC nuwe voorstelle oor grondhervorming gemaak het in ’n ekonomiese beleidsdokument. Die ANC het in 2021 reeds daarin misluk om die Grondwet te wysig wat die onteiening van eiendom sonder vergoeding moontlik sou maak.

Soortgelyke plasings