|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Burgerregte het ’n hupstoot in die Wes-Kaap gekry met die stigting van die Kaapse Forum in die Moederstad en daar is weer hoop vir duisende beleggers wat hul pensioengeld verloor het ná AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangekondig het dat hulle die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om nie op Sharemax-bates beslag te lê nie, gaan betwis.

Heindrich Wyngaard is die uitvoerende voorsitter van die nuut gestigte Kaapse Forum. Die doelstelling van dié organisasie is om die lewensomstandighede van alle gemeenskappe in die Wes-Kaap te verbeter. Wyngaard het tydens die bekendstelling gesê “die klippe wat daar in die verlede na mekaar gegooi is, moet nou omgeskakel word in bakstene waarmee ons mekaar ondersteun.”

Heindrich Wyngaard is die uitvoerende voorsitter van die nuut gestigte Kaapse Forum.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid berei voor om die NVG se besluit op hersiening te neem om nié ’n bewaringsbevel ten opsigte van die bates van die Nova Eiendomsgroep (voorheen Sharemax) te bekom nie. Die NVG het om onverklaarbare redes besluit om nie op te tree in hierdie dekadelange skandaal nie.

Soos wat die Kaapse Forum hom daarop toegespits om gemeenskappe se lewensomstandighede te verbeter, het verskeie AfriForum-takke ook hul deel gedoen om ’n verskil te maak.

Die Witbank-tak het hul projek om skole te beveilig voortgesit. Met die eerste fase is die spoedhobbels en stoptekens op die pad rondom Laerskool Taalfees en Robert Carruthers School oorgeverf. Gedurende die tweede fase is ontbrekende verkeerstekens rondom Laerskool Taalfees vervang.

Die AfriForum-takke in Edenvale, aan die Oos-Rand, en Mooinooi in Noordwes het vandeesweek talle slaggate herstel.

Die tak in Upington het hul volhoubare skoonmaakaksie voortgesit en voor die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se kantoor en by Laerskool Fanie Malan skoongemaak. 26 bome is gesnoei en die sypaadjie is netjies en toeganklik gemaak vir voetgangers. Twee vragte tuinafval en vullis is weggery.

Ursula Calitz en Werner Strauss het in Upington gehelp om bome te snoei en skoon te maak.

Soortgelyke plasings