|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

As dit by die instandhouding en skoonmaak van parke en geskiedkundige plekke kom, skiet munisipaliteite dikwels ver tekort. AfriForum se takke het die afgelope week oral ingespring om skoon te maak en die nodige instandhoudingswerk te doen.

Die tak in Belfast het die gras by die konsentrasiekampbegraafplaas gesny en indringerplante verwyder. Hulle het verder ’n projek van stapel gestuur om dié begraafplaas permanent skoon te maak. Die tak het ook saam met die Mpumalanga Erfenisbeweging besoek afgelê by die mees prominente geskiedkundige terreine in die dorp.

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het geld bewillig sodat die termietplaag by Totiushuismuseum uitgeroei kan word. Behandeling vir die reusetermietnes is buite rondom die huis, asook onder en binne die huis gedoen.

In Heilbron het AfriForum-lede die ingange na Vegkopuitbreiding wat byna onbegaanbaar is, opgeknap. Slaggate is tydelik met gruis gevul om die pad rybaar te maak en hulle is ook besig om stormwaterdreine wat verstop en stukkend is, te herstel. ’n Skrywe is ook aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor die haglike toestand van die vullisterrein.

Die Paul Bodenstein Park in Rustenburg se gras is gesny en die bome is gesnoei nadat die AfriForum-tak genader is om saam met 18 ander organisasies en ondernemings deel van dié gemeenskapskoonmaakprojek te wees.

Die Sasolburg-tak, wat bekend is daarvoor dat hulle gereeld grassny, het die afgelope jaar reeds 109,8 ha. se gras gesny. Hulle het ook op verskeie plekke sypaadjies oopgespit en afgesaagde bome opgesny.

Die AfriForum-tak in Benoni het 25 slaggate gevul en ’n skoonmaakprojek aangepak nadat ’n aantal klagtes ontvang is oor slaggate wat die paaie onveilig maak en vuil publieke ruimtes.

Leerders van Lettie Fouché Skool in Bloemfontein het ook die afgelope week entrepreneursopleiding ontvang by die Besigheidsbytjiesspan sodat leerders kan inskryf vir die Besigheidsbytjies-entrepreneurkompetisie wat jaarliks aangebied geword.

AfriForum se Randfontein-tak het ’n reuse-oorwinning in die hof behaal nadat die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit skuldig gepleit het op klagtes van besoedeling. Hierdie oorwinning skep hoop dat meer gemeenskappe hul munisipaliteite in die toekoms strafregtelik verantwoordbaar kan hou.

Soortgelyke plasings