|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Ondanks die winter wat stadig maar seker vir al hoe meer koue dae begin sorg, is AfriForum se takke en vrywilligers aan die brand met opruim-, skoonmaak- en herstelaksies in hul dorpe.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook ’n besoek aan die Sasolburg-tak gebring waar hy eerstehands van Johan Cooks, voorsitter, verneem het hoe daar in dié dorp gewoeker word met onder meer die herstel van slaggate en die sny van gras. Die grootste prestasie is dat die tak vanjaar reeds bykans 110 ha gras gesny het. Die burgemeester van Metsimaholo, raadslid Jeff Zwane, het ook die vergadering bygewoon en die tak bedank vir die groot werk wat hulle in die dorp doen.

In Dealesville het die tak vyf ton teer geskenk vir die herstel van slaggate. Dit is ’n projek wat deur die boere en gemeenskap behartig word.

Die Fochville-tak het by die plaaslike hoofsubstasie skoongemaak nadat die stadsraad en Eskom reeds jare versuim om dit te doen. Sedert Desember 2021 is daar herhaaldelik toevoerkabels en kragbokse binne in die substasie gevandaliseer wat veroorsaak dat Fochville soms vir dae sonder elektrisiteit is. In een geval was die koste om die skade te herstel R340 000. Dit is ook beveilig met nuwe slotte en ’n solarlig wat aangebring is.

Die Richardsbaai-tak het ’n brief aan Nkosenye Zulu, waarnemende munisipale bestuurder van die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit, gestuur en gevra vir ’n aksieplan om aandag te skenk aan die rioolprobleem by die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV).

In Potchefstroom het die tak ook indringerbome saam met GreenThorn Environmental Solution, in die vloedvlakte van die Mooirivier verwyder.

Daar was ook ’n eerste met die Groter Moot-tak wat hul eie dorpskantoor geopen het. Dié kantoor kan onder meer gebruik word om by die Groter Moot-tak en -buurtwag aan te sluit; vir hulp met Telegram om op die AfriForum-groepe bygevoeg te word; vir hulp om misdaad en munisipale kwessies te rapporteer; en vir algemene navrae oor hierdie tak en buurtwag.

Die Heidelberg-buurtwag het ook groot suksesse saam met die SAPD behaal met onwettige immigrante en skrootdiewe wat gearresteer is en verdagte winkeldiewe wat ook aangekeer is.

In Germiston het taklede buite die landdroshof betoog ná die moord op Chevonne Rusch (2). Hulle het geëis dat die beskuldigde nie borgtog kry nie.

Die privaatvervolgingseenheid was ook bedrywig het onder meer gehelp met die opening van ’n saak van beweerde seksuele misdrywe teen ’n prominente Sandton-prokureur. Die klaer in die saak het AfriForum om hulp genader nadat sy nie hulp kon kry om strafregtelike klagtes by die polisie in te dien nie.

Soortgelyke plasings