|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Veiligheid was vandeesweek, soos opknappings- en skoonmaakprojekte, weer hoog op AfriForum se takke se prioriteitslys.

AfriForum het die Grenswag Inisiatief in Musina van stapel gestuur om die land se grense te help beveilig. Twee snuffelhonde is aan die dorp se buurtwag geskenk. Duke en Hailey is opgelei om spoor te sny en Duke is spesifiek opgelei om vuurwapens en dwelms uit te snuffel.

AfriForum het 155 veiligheidstrukture landswyd en meer as
10 000 vrywilligers wat ’n reuserol speel om hul gemeenskappe te beveilig.

AfriForum se Bo-Karoo-tak het aan ongeveer 28 mense van Orania, Douglas en Modderrivier basiese skietopleiding in samewerking met Leo Prinsloo aangebied. Hulle het geleer hoe om hul wapens doeltreffend te gebruik om hulself en hul naastes te kan beskerm. Hulle het ook geleer om basiese noodhulp toe te pas indien een van die spanlede raakgeskiet sou word.

Leo Prinsloo het skietopleiding in Orania aangebied.

Wat hofsake betref is Jaco Swart skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het sy vervreemde vrou, Nicoleen, in ’n waaksaamheidsopdrag verteenwoordig. Hy is R20 000 boete opgelê sowel as tronkstraf vir drie jaar wat vir vyf jaar opgeskort is.

In die Randburg Landdroshof was Julius Malema, leier van die EFF en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, se aansoek om ontslag in hul aanrandingsaak onsuksesvol. Malema en Ndlozi staan tereg op aanklagte van aanranding op ’n SAPD-kolonel. Die insident het in 2018 plaasgevind ná Malema se voertuig toegang tot Winnie Mandela se begrafnis geweier is.

Malema is geroep om te getuig waartydens hy volgehou het dat sy optrede redelik en regverdigbaar was. Die saak is uitgestel tot Julie.

In die moederstad het AfriForum se Kaapstad-Noord-tak ’n skoonmaakprojek by die Hoërskool Bellville van stapel gestuur om ’n skoner omgewing vir inwoners te skep en te help dat die woonbuurt nie agteruitgaan nie. Die tak het reeds verskeie ander soortgelyke projekte aangepak.

In Viljoenskroon het die tak die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor riool. Die riool vloei in die strate in die dorp en dit is reeds die afgelope sewe jaar ’n groot probleem.

Riool vloei al die afgelope sewe jaar in die strate van Viljoenskroon.

Standerton se paaie het aandag gekry en die tak het in samewerking met Sahara Sand en Penta Nissan Standerton begin om slaggate met doloriet te vul. Slaggate in Dr. Beyers Naudéstraat is vanaf Baumannstraat tot by Krugerstraat gevul.

Die AfriForum-tak in Sasolburg se grassny-projek is ook goed op dreef en onlangs is nog 23 ha gras in verskillende gebiede in die dorp gesny. Al die areas is ook eers skoongemaak voordat die gras gesny is.

Sasolburg se grassny-projek is nog goed op dreef.

Inwoners in Piet Retief kan ook nou weer hul geliefdes se grafte besoek nadat die tak die begraafplaas skoongemaak het. Die projek is geloods nadat die tak verskeie versoeke gekry het van gesinne wat nie hul geliefdes wat hier begrawe is se grafte kon besoek nie.

Die begraafplaas in Piet Retief is skoongemaak.

AfriForum se Noord van die berg-tak het begin om slaggate op te vul en ongeveer 750 kg teer is gebruik. Dié tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by hierdie projek. Inwoners kan fisies help om slaggate te vul of donasies maak in ’n poging om die noorde van Pretoria slaggatvry te maak.

Soortgelyke plasings