|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het hierdie week met spyt en hartseer die afsterwe van JJ Cassanga bevestig. Hy en Terence Tegg is tydens die gewelddadige staking by Clover op 17 Februarie ernstig aangerand. Tegg is kort ná die voorval oorlede en Cassanga het Dinsdag by sy dokter inmekaar gesak.

Die privaatvervolgingseenheid staan Tegg se verloofde en Cassanga se familie by in die aanrandingsaak teen vyf beskuldigdes. Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het ’n beroep op die polisie gedoen om deeglik ondersoek in te stel om te bepaal of Cassanga se dood gekoppel kan word aan die beserings wat hy tydens die aanranding opgedoen het.

Voorts gaan die privaatvervolgingseenheid twee klaers met klagtes van korrupsie teen ’n instrukteur van die Indlela Opleidingsakademie bystaan. Die instrukteur het blykbaar die klaers vir omkoopgeld van duisende rande gevra om hul eksamens te laat deurkom.

“Hierdie tipe blatante korrupsie is net tekenend van hoe onbeskaamd korrupsieplegers deesdae geword het. Die klaers wat geweier het om deel te neem aan die verdagte se slinkse plan, is die ware helde en hulle behoort geprys te word,” sê Natasha Venter, adviseur van die privaatvervolgingseenheid.

Natasha Venter, adviseur van die privaatvervolgingseenheid

AfriForum se takke het ook ’n lekker besige week agter die rug. Die Upington-tak het voedsel aan ’n sopkombuis in die Dakota- woonbuurt geskenk. Hierdie sopkombuis voorsien omtrent 300 kinders daagliks van kos. Ook in die Noord-Kaap het die AfriForum-tak in Springbok 480 liter brandstof aan boere geskenk om die voortslepende sprinkaanplaag te beveg. Plase in die omgewing is baie vêr uitmekaar en boere ry op eie onkoste om die plaag te bestry.

Benoni lyk ná AfriForum se tak in die dorp hul #OnsDorp-projek in van stapel gestuur het sommer baie beter. Slaggate is gevul, gras gesny, onkruid verwyder en bome gesnoei.

Nog ’n brokkie goeie nuus is dat die tydperk vir kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (Die Bela-wet) verleng is. Die wysigings word uit talle oorde gesien as ’n slinkse plan om Afrikaanse skole verder aan te val. AfriForum het ’n aanlyn petisie geloods om steun teen die wetsontwerp te kry. Dit is by www.redafrikaans.co.za beskikbaar.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

Soortgelyke plasings