|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Met Vrouedag wat vandeesweek gevier is, het AfriForum se  privaatvervolgingseenheid die regering opnuut herinner aan hul lippediens in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. Verskeie slagoffers het die eenheid die afgelope maande genader wie se sake nie die nodige aandag gekry het nie.

Die eenheid is verlede week ingelig dat die stiefpa van twee vroue, wat hy na bewering oor ’n lang tydperk verkrag en seksueel aangerand het, in hegtenis geneem is. Die vrou van Lichtenburg het die sake in Oktober 2020 geopen, maar het die eenheid genader omdat sy bekommerd was oor die gebrek aan vordering in die ondersoek. Ná byna twee jaar, is die enigste bewysstuk wat gekort het in die saak, ’n waarskuwingsverklaring van die verdagte. Ná ’n brief aan die speurhoof in Lichtenburg is die verdagte in hegtenis geneem.

Die eenheid is tans by verskeie ander sake betrokke soos die van:

Adv. Mpho Rasivhetshele: Sy is glo by ’n sosiale byeenkoms deur ’n senior lid van regsberoep aangerand. Die saak kom 25 Augustus voor na ingryping deur die eenheid.

Celeste Gouws: Sy is na bewering in 2017 deur Isaac Andile Memese verkrag. Die Nasio ale Vervolgingsgesag (NVG) het geweier om te vervolg. Die saak word privaat vervolg deur adv. Gerrie Nel. Memese het ’n aansoek gebring om die saak te laat skrap, maar dit is twee weke gelede van die hand gewys. Die verhoor hervat in Desember.

Duduzile Zuma: Zuma, ’n toegewyde Johannesburgse brandweervrou met meer as twee dekades ervaring, is in 2018 deur kollega Malfas Tshota aangerand terwyl hy aan diens was. Die NVG het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie, tot die privaatvervolgingseenheid toegetree het.

Milena Hill: Sy is na bewering aangerand deur John Schuurman (ook bekend as Johnny Rockett). Sy het die eenheid genader uit kommer dat haar saak nie sou voortgaan nie weens Schuurman se beweerde kontak met die polisie.

Benewens ’n besige tyd in die howe het AfriForum se takke en buurtwagte ook in hul gemeenskappe gewoeker.

Die Bronkhorstspruit-tak het “Welkom in AfriForum-wêreld”-borde opgerig ter bewusmaking van die organisasie se teenwoordigheid in die area. Die tak is ook met verskeie ander veiligheidsprojekte besig.

Die AfriForum-takke in die Durban-omgewing het ’n brief aan die eThekweni Metropolitaanse Munisipaliteit gestuur om antwoorde te eis oor ’n aantal klagtes. Dit sluit in klagtes oor kragprobleme, straatligte wat buitewerking is en ernstige rioollekasies. Die areas wat geraak word, is Amanzimtoti, Pinetown en Queensburgh.

Riool word in die Winkelspruit gestort.

In Roodepoort het die buurtwag brandopleiding ontvang. Forum Sekuriteit het die opleiding aan 20 van die Roodepoort-buurtwaglede aangebied by Gauteng Dragon Boat Association. Die opleiding het teorie en prakties ingesluit en is interaktief. Die doel daarvan is op die buurtwaglede die basiese kennis te gee oor hoe om op te tree tydens ’n brand.

Die Vanderbijlpark-buurtwag het gewys hoe opgetree moet word en was betrokke by die blus van twee brande in een aand.

Steeds op die onderwerp van veiligheid het AfriForum ’n brief aan die minister van Binnelandse Sake, dr. Aaron Motsoaledi, gestuur waarin hulle duidelikheid eis oor die proses wat gevolg is met die ontplooiing van grenswagte onder die bestuur van die Grensbestuursowerheid (GBO). Volgens AfriForum is die relevante wetgewing, met betrekking tot die Wet op Grensbestuur, wat die Departement van Binnelandse Sake en die GBO sal bemagtig om hierdie wagte te ontplooi, nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie. “As ons gevolgtrekking korrek is, en hierdie wagte ontplooi is voordat die vereiste wetgewing in die Staatskoerant bekend gemaak is, sal dit beteken dat die regering onwettig ’n ongemagtigde eenheid na ons grensgebiede ontplooi het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid

Soortgelyke plasings