|

Forum Nuus: Die week se blitsflits

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum het vandeesweek twee groot oorwinnings in die hof behaal.

Ná ’n vyf-jaar-lange stryd om Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te hou, is daar met koste in AfriForum se guns beslis.

Die Konstitusionele Hof het ’n eenparige beslissing ten gunste van AfriForum in die saak vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by Unisa gemaak. “Dit is belangrik dat daar uiteindelik erken word dat toegang tot tersiêre studie uitgebrei moet word om nie net ruimte vir eerstetaal Engelssprekendes te skep nie, maar meer moedertale te akkommodeer,” sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

In die ander saak het die appèlhof in Bloemfontein die Departement van Toerisme se ekwiteitsfonds (TEF), wat volgens swart ekonomiese bemagtiging (SEB) se kriteria fondse aan besighede in die toerismebedryf toegeken het, onwettig verklaar.

SEB-kriteria vir aansoeke om hulp van die TEF moes volgens Mmamoloko Kubayi-Ngubane, voormalige Minister van Toerisme “die begin en die einde van ’n aansoek” wees. “Die hofuitspraak maak dit duidelik dat Kubayi-Ngubane ’n fout gemaak het in haar interpretasie van die wet,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het op 21 September 2021 nog ’n teerprojek in Diamantstraat voltooi. Die totale omvang van die projek is ongeveer 120 m2 en nege ton teer is vir dié herstelwerk gebruik.

AfriForum se Kaap Agulhas-tak het op 17 September vyf bome geskenk wat op die nuwe vaardigheidskool net buite Struisbaai se terrein geplant gaan word. Benewens dié bome, is daar ook besluit om bome by ’n aantal skole, die SAPD, die Suiderlig Dienssentrum en by die Bredasdorp-ingange te plant.

Arno Greyling, Peet Wessels, Edmind Farao, Ricardo Theunissen en Derrick Burger.

Die jeugvleuel van AfriForum se Piet Retief-tak het op 18 September ’n projek van stapel gestuur om die groot kruis teen die N2-hoofweg te herstel. Die kruis sal opgeknap word en weer op 2 Oktober gemonteer word.

Soortgelyke plasings