|

Forum Nuus: Dié week se blitsflits

AfriForum was vandeesweek weer aan die voorpunt van die stryd teen verval wat oral in die land gesien word.

AfriForum betwis die kortlys van kandidate wat oorweeg word om die land se volgende hoofregter te word. Die lys sluit John Hlophe, huidige regter-president van die Wes-Kaap, in wat al vir verskeie misdrywe deur mederegters aangekla is. Nog ’n omstrede kandidaat is adv. Busisiwe Mkhwebane. Sy is tans die Openbare Beskermer (OB) en word steeds deur die parlement ondersoek. Sy het ook reeds haar rieme verskeie kere in die howe styfgeloop.

Die plaaslike AfriForum-tak in Dealesville in die Vrystaat het ingegryp om ’n waterpyp te herstel nadat inwoners vir 15 dae sonder water was. Dit kan toegeskryf word aan die onbeholpenheid van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit wat ’n pyp op twee verskillende plekke stukkend geslaan het om ’n verstopping op te spoor. Hulle het nie die nodige toerusting gehad om die pyp te herstel nie.

Die AfriForum-tak in Zastron het aan die werk gespring en verskeie asblikke in die dorp opgerig as deel van hul projek om Zastron skoon en netjies te hou. Die tak het ook vullis verwyder nadat die munisipaliteit dit nie volgens hulle skedule verwyder het nie.

Verskeie asblikke is in Zastron opgerig.

AfriForum het vandeesweek ’n verslag bekendgestel wat die ANC se verdraaiing van die geskiedenis ontbloot. Dié verslag is in reaksie op die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou se finale verslag se gedeelte oor historiese konteks. Dit wys onder meer op die regering se verslag se feite foute en op verskeie belangrike geskiedkundige gebeure wat uitgelaat is.

“Die regering se verslag is baie slordig, afgewater, vaag en onvolledig en dit lyk eerder of die outeurs net daarop ingestel was om inligting in te sluit om hul argumente te staaf en historiese regverdiging en motivering te probeer kry om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak,” meen Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum.

Uys sê dit is problematies dat die geskiedenis verwring word om ideologiese doelwitte te bereik en ’n politieke agenda te dien. “Dit is noodsaaklik om eerlik met die verlede om te gaan sodat daar lesse uit die verlede geleer kan word.”

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 5 Oktober 2021 by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in Derdepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Soortgelyke plasings