|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Geregtigheid het vandeesweek geseëvier toe regter Hennie de Vos twee ouers skuldig bevind het op klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en kinderverwaarlosing in die Hooggeregshof in Pretoria.

Dié uitspraak volg nadat die eenheid in Julie 2020 twee dokters en ’n maatskaplike werker bygestaan het in die lê van strafregtelike klagtes teen die ouers van ‘n vyf maande oue baba wat deur haar ouers mishandel is sedert sy vyf weke oud was.

Die regter het in sy uitspraak die afleiding gemaak dat die baba 31 frakture opgedoen het as gevolg van aanrandings wat op ten minste vyf geleenthede toegedien is. Sy is nou 18 maande oud, gesond en in die sorg van ander familielede. Vonnisoplegging sal op 6 en 7 Desember 2021 plaasvind.

Phyllis Vorster en Andrew Ludick buite die Noord-Gautengse Hooggeregshof

AfriForum het ook aangekondig dat hy appèl gaan aanteken teen die uitspraak in die Glencoe Landdroshof wat nie borgtog aan Garth Simpson, ’n boer van Dundee, toegestaan het nie. Simpson word van moord aangekla op Qiniso Dlamini (17) ná ’n skietvoorval op sy plaas enkele weke gelede. Na ’n voorval wat verband hou met gesteelde vee wat Simpson op sy plaas geskut het, het ‘n struweling na bewering ontstaan en gevolglik het ’n skoot uit Simpson se geweer afgegaan en Dlamini getref. AfriForum het vroeër aangekondig dat hy Simpson met regshulp gaan bystaan omdat dit reeds blyk of daar politieke inmengery in dié saak is.

Ernst Roets

Die tak in Bethal het 154 kg spinasie uit hul gemeenskapsgroentetuin geoes. Dit was die tak se tweede oes en die groente is aan die Bethal-sopkombuis, Palm Oord, Silwerjare-tehuis vir bejaardes en die Marietjie van Niekerk-voedselhulpprojek geskenk. Die totale waarde van voedselhulp wat die projek tot dusver vir 2021 opgelewer het, is R12 000.

Gemeenskapstuin in Bethal

Die AfriForum-takke in Lydenburg en Nelspruit het op 15 Oktober skoonmaakaksies in hul onderskeie dorpe aangepak. Die Nelspruit-tak het weer met WeCare4 Nelspruit saamgewerk en die Lydenburg-tak het hulle aksie saam met gemeenskapslede aangepak.

Lydenburg

Soortgelyke plasings