|

Forum Nuus Ontleding: Plaasmoorde en die pad vorentoe

Plaasmoorde is vanjaar reeds vroeg in die kollig na afloop van die grusame moord op Hannes en Ester Kidson (albei 69), wat op 13 Januarie op hul plaas tussen Westonaria en Jachtfontein gemartel en met ʼn skerp voorwerp doodgesteek is. Nóg ʼn egpaar, Richard en Anita Wiggill, beide in hul 70’s, is vandeesweek op hul plaas in Haenertsburg in Limpopo in hul plaashuis aangeval.

Gemiddeld 70 mense sterf jaarliks in plaasmoorde wat dikwels met marteling en brutaliteit gepaard gaan.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in die lig van dié vergrype reeds in 2008 met protesaksies teen plaasmoorde begin. ʼn Memorandum is in dieselfde jaar aan die polisie oorhandig om ondersoek in te stel na die rol wat politici se haatspraak teen boere speel om mense op te sweep om boere te vermoor.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is besluit om met bewusmaking en ander veldtogte, plaaslik en internasionaal, teen plaasmoorde en –aanvalle te begin weens die regering se stilswye en oënskynlike miskenning van die wrede misdade.

Nathi Mthethwa, vorige minister van polisie, het in ’n stadium gesê AfriForum en ander se versoeke vir die prioritisering van plaasmoorde kom neer op ’n rasse-agenda en dat boere nie “goue seuns en dogters” is wat op spesiale behandeling geregtig is nie. Hy het aangevoer die polisie het ʼn omvattende landelike veiligheidsplan en dat dit nie sin maak om plaasmoorde te prioritiseer nie.

Annette Steyn, DA-LP en woordvoerder oor landbou, bosbou en visserye, het gesê die party het ook herhaaldelik gevra vir maatreëls om die krisis rondom landelike veiligheid te pak. Sy het onlangs weer benadruk dat diegene wat in landelike gebiede bly in besonder kwesbaar is en in gevaar verkeer.

Ondanks die SAPD se “omvattende landelike veiligheidsplan” het TLU SA en AfriForum se gemeenskaplike navorsing oor plaasmoorde bevind dat daar tussen 1990 en 2016 in totaal reeds 1 849 boere vermoor is.

Die navorsing het ook bevind dat ander misdade wat saam met plaasmoorde gepleeg word moord, poging tot moord, verkragting, aanranding, gewapende roof, intimidasie, brandstigting en saakbeskadiging insluit.

AfriForum het tussen 2012 en 2016 verskeie veldtogte in die stryd teen plaasmoorde aangepak:

. In 2012 is die veldtog verskerp en uitgebrei om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar begin. Die regering is ook deur die burgerregte-organisasie versoek om spesialiseenhede vir landelike beveiling daar te stel.

. In 2013 is ʼn verslag bekendgestel waarin die growwe nalatigheid van polisiebeamptes blootgelê is rondom die ondersoekwerk van plaasaanvalle en -moorde. Dié kwessie is ook vir die eerste keer na die VN geneem.

. In 2014 is ʼn verslag oor die brutaliteit van plaasmoorde bekendgestel en ’n petisie met 60 000 handtekeninge teen plaasmoorde is aan die polisieministerie in Pretoria oorhandig.

. In 2015 is ʼn tienpuntplan by die Menseregtekommissie (MRK) se openbare verhore oor plaasmoorde bekendgestel. In dieselfde jaar het die burgerregte-organisasie Lorraine Claasen, ʼn navorser en kriminoloog, aangestel om omvattende studies oor plaasmoorde te doen. Claasen en Roets het Australië ook besoek om die plaasmoordkwessie te internasionaliseer.

. AfriForum was ook in 2015 betrokke by die film Treurgrond wat die werklike omvang van plaasmoorde en –aanvalle uitgebeeld het.

. In Mei 2016 is ’n geskiedkundige ooreenkoms tussen die burgerregte-organisasie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gesluit, waartydens lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, aangekondig het dat die SAPD met AfriForum wil saamwerk. Hy het ook bevestig dat die SAPD op ʼn proaktiewe wyse dié unieke misdaad sal hanteer.

Plaasmoorde is dus as ʼn prioriteitsmisdaad verklaar en verskeie samesprekings het tussen die burgerregte-organisasie en plaaslike polisie plaasgevind met die doel om standaard operasionele prosedures op te stel waarvolgens die polisie ’n mandaat kan aanvaar om met alle gemeenskapsveiligheidstrukture saam te werk om moorde te stop.

AfriForum en die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) het ook einde verlede jaar tydens ’n mediakonferensie die jongste syfers vir plaasmoorde en -aanvalle bekendgemaak. Dit het daarop gedui dat daar tussen Januarie en einde November 2016 sowat 334 plaasaanvalle en 63 plaasmoorde landwyd was, ondanks ’n beduidende getal aanvalle wat danksy polisieteenwoordigheid afgeweer is.

 stats

*TLU SA en AfriForum se gesamentlike syfers vir plaasmoorde en-aanvalle tussen 1990 en 2016.

Spesifieke elemente wat ten opsigte van die 2016-plaasaanvalle en -moorde ook tydens die konferensie onthul is, sluit in: die toename in uitermatige wreedheid van aanvalle; die gevalle van verkragting of poging tot verkragting wat tydens plaasaanvalle in 2016 aangemeld is; die tye en dae wanneer plaasmoorde gepleeg word; asook die voorsorgmaatreëls wat boere kan tref om meer paraat teen aanvallers te wees.

Genl. Chris van Zyl, assistenthoofbestuurder van TLU SA, het sy kommer uitgespreek oor die voortslepende dreigemente rondom grondbesettings, die toename in die vergiftiging van vee asook die klaarblyklike gebruik van tegnologie om boere se alarmstelsels en selfone tydens aanvalle buitewerking te stel.

Volgens Van Zyl is daar ongetwyfeld ’n verband tussen die land se politieke klimaat en die hoeveelheid plaasmoorde wat gepleeg word. Hy is ook van mening dat misdaadintelligensie ’n prominente rol moet begin speel in die stryd teen plaasmoorde en -aanvalle.

Volgens prof. Rudolph Zinn, ʼn senior lektor aan Unisa se skool vir polisiepraktryk, het misdadigers wat by ʼn navorsingstudie betrokke was gesê dat sigbare polisiëring soos patrollies deur gemeenskapslede beslis ’n afskrikmiddel is en dat dit die kans van ’n aanval of rooftog met tot 68% laat afneem.

Verskeie ander kundiges soos Lucas Swart, ʼn kenner van plaasveiligheid, en organisasies soos TLU SA het in die verlede talle veiligheidswenke en inligting oor plaasmoorde gedeel. Dit sluit in:

  • Beperk die hoeveelheid kontant en vuurwapens wat in jou besit is. Beide kan jou ʼn teiken maak vir ʼn rooftog.
  • Wees op die uitkyk vir roete-aanwysers wat dui op enige voorafkenning van die gebied soos klippe, stokke of sakke.
  • Gebruik slegs betroubare alarmdiensverskaffers en programmeer dit só dat die alarm ʼn sein na beide die beheerkamer en ʼn buurman stuur.
  • Raak betrokke by ʼn plaaswag, buurtwag of enige tipe gemeenskapsveiligheidnetwerk wat gereeld die omgewing patrolleer.
  • Neem in ag dat sekere rowers toegang het tot gesofistikeerde tegnologie wat by die frekwensies van tweerigtingradio’s kan inskakel om uit te vind wanneer patrollies plaasvind. Daarom is dit belangrik om die frekwensie van die radionetwerk jaarliks te verander.
  • Neem die tye en dae in ag wanneer plaasaanvalle die meeste plaasvind. Volgens navorsing vind aanvalle die meeste plaas in die aand en oor naweke omdat rowers dan kluissleutels by boere kan kry.
  • Indien jy jouself moet verdedig, bly binne die wet. Jou verdediging moet in “redelike verhouding” tot die aanval wees.

Ondanks die toename in plaasmoorde is AfriForum steeds optimisties oor die positiewe invloed wat hul samewerking met die polisie vanjaar vir die voorkoming van plaasmoorde kan beteken.

AfriForum en die SAPD het op 16 Januarie 2017 ʼn geskiedkundige samewerkingsooreenkoms onderteken waarin die SAPD erkenning aan AfriForum gee as ʼn amptelike teenmisdaadsvennoot.

Die burgerregte-organisasie, wat tans sowat 90 buurtwagstrukture landwyd het, het reeds verskeie veiligheidsveldtogte op plaaslike vlak in samewerking met die polisie aangepak om misdaad in veral landelike gebiede te bekamp.

AfriForum beplan ook om vanjaar verdere bewusmaking op plaaslike en internasionale vlak te doen in die stryd teen plaasmoorde.

Soortgelyke plasings