|

Nuuskommentaar: Hoekom enigsins “Kill the Boer” sing?

AfriForum het Maandag ’n sterk saak in die Appèlhof in Bloemfontein gemaak om ’n einde te maak aan die sing van die dreunsang “Kill the Boer”. Die Gelykheidshof het verlede jaar in Johannesburg tot die gevolgtrekking gekom dat die sing van dié lied nie haatspraak is nie, maar AfriForum sal die stryd teen die sing van die lied enduit voer.

Daar kan dalk argumenteer word dat ’n beslissing oor dié dreunsang irrelevant is as ’n mens kyk wat die gevolge van die sing daarvan is. Verlede maand is Tim en Amanda Platt op hul plaas naby Pietermaritzburg met ’n spies, loodpyp en boutsnyer aangeval. Die aanvallers het “Kill the Boer” geskree terwyl hulle die egpaar aangeval het.

AfriForum Jeug het in ’n verklaring gesê die Universiteit van Pretoria (UP) het ’n verantwoordelikheid om hul studente veilig te hou. Dit volg ná voorvalle van intimidasie deur EFF-studente in Hatfield wat met voertuie en luidsprekers in die strate op en afgery het en selfs “Kill the Boer” gesing het. AfriForum Jeug het private veiligheidswagte ingeroep om studente wat onveilig voel, te beskerm.

In bogenoemde gevalle is dit duidelik hoe die optrede van onverantwoordelike leiers soos Julius Malema, wat weer by die EFF se tiende verjaardagviering voor ’n stampvol stadion “Kill the Boer” gesing het, se optrede ondersteuners opsweep.

Ernst Roets het in sy boek Kill the Boer tot die gevolgtrekking gekom dat plaasaanvalle toeneem ná “Kill the Boer” by openbare geleenthede gesing is.

Die argumente wat in die hof gevoer word oor of die dreunsang haatspraak is of nie, word gevoer tussen intelligente, hoogs geskoolde mense. Dis debatteerbaar watter persentasie van die EFF se ondersteuners tot op die dieselfde vlak geskool is. Malema en die EFF se regspan kan dus allerlei redes wat baie edel kan klink aanvoer oor hoekom ’n ou struggle lied nou nog gesing moet word. Daar is egter van hul ondersteuners wat die woorde van dié lied letterlik opneem, omdat hulle nie self die goeie oordeel aan die dag kan lê om te onderskei tussen die letterlike en figuurlike nie en dan boere, of die groter groepering van wit mense in die land, wil leed aandoen.

Die sing van “Kill the Boer” gaan duidelik eintlik oor die werwing van stemme vir volgende jaar se verkiesing deur rassespanning aan die blaas. Die struggle is in elk geval lankal verby en dis tyd om te regeer eerder as om te bevry. Dis nou tensy die land van die huidige regeerders bevry moet word. Dis hoog tyd dat politieke partye ingestem word op grond van hul vermoë om ordentlik te regeer, want die ANC-regering het kennelik op omtrent alle vlakke misluk en die EFF sal nog veel slegter nuus vir Suid-Afrika wees as hulle ooit aan bewind sou kom.

 

Soortgelyke plasings