|

FORUM SEKURITEIT KRY GROEN LIG VAN PSIRA

Deur Alet Rademeyer

Forum Sekuriteit is in 2019 as geakkrediteerde opleidingsverskaffer deur die Quality Council for Trades and Occupations (QCTO) onder die Safety and Security Sector Education and Training Authority (SASSETA) as deel van die South African Qualifications Authority (SAQA) geregistreer.

Die maatskappy se registrasie as sekuriteitsmaatskappy is vandeesweek deur PSiRA goedgekeur wat beteken dat daar nou met die volwaardige opleiding van sekuriteitsbeamptes begin kan word.

Gerhard Faber, opleidingspesialis en kenner van PSiRA-registrasieprosesse, was nou by die registrasieproses betrokke. “Ons is baie opgewonde dat ons aansoek suksesvol was en dat ons nou kan begin om sekuriteitsbeamptes op te lei. Dit was ’n baie omvattende proses om te verseker dat die kwalifikasies in plek is en dat instrukteurs eers opgelei kon word.”

McKenzie Detshego, Quitin Mills, Samuel Sathege, Potego Mnisi en Daniël de Jonge is deel van die veiligheidswagtespan van Forum Sekuriteit wat die sekuriteitsdiens by Sol-Tech, ’n beroepsopleidingskollge, lewer. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Nic Arnold, uitvoerende hoof van Forum Sekuriteit, sê die maatskappy ding in die oop veiligheidsopleidingsmark mee met ander sodanige diensverskaffers en is daarop toegespits om mense met korrekte kennis, vaardighede en gesindhede toe te rus om beskermingsdienste sowel proaktief as reaktief tydens veiligheidsbedreiging te kan lewer.

“Ons bestaansreg is daarin gesetel om gemeenskappe se grondwetlike regte ten opsigte van veiligheid te beskerm en uit te bou. Ons fokus is hoofsaaklik kwesbare gemeenskappe soos skole, ouetehuise en landbougemeenskappe in afgesonderde en verafgeleë gebiede.”

Nic Arnold, uitvoerende hoof van Forum Sekuriteit.

Die opleidingsmaatskappy is sodanig gestruktureer dat sowel geakkrediteerde as niegeakkrediteerde opleiding (werkswinkels) aangebied kan word.

Geakkrediteerde opleiding sluit twee kwalifikasies in:

  1. ’n Algemene sekuriteitspraktisyn (SAQA-nommer 58577, 133 krediete) wat ’n nasionale kwalifikasieraamwerk (NKR)-vlak 3-kwalifikasie is.
  2. ’n Spesialissekuriteitspraktisyn (SAQA-nommer 57713, 137 krediete) wat ’n NKR-vlak 4-kwalifikasie is. Die NKR-vlak 3-kwalifikasie is ’n voorvereiste vir kwalifikasie op vlak 4.

Albei hierdie kwalifikasies kan aan ’n voornemende sekuriteitsbeampte die nodige begronding verleen om met selfvertoue ’n loopbaan in die sekuriteitsindustrie te betree.

Niegeakkrediteerde opleidingsprogramme behels die volgende:

Werkswinkels word vanaf 2021 onder die vaandel van Forum Sekuriteit aan buurtwaglede en ander belangstellendes aangebied. Hierdie opleidingsprogramme sluit in:

  1. Noodhulp (vlak 1 tot 3) wat gedesentraliseerd reg oor die land deur geregistreerde fasiliteerders aangebied sal word. Aanbieding van die kursus geskied op aanvraag.
  2. Brandbestryding- en PSiRA-opleiding van Graad E tot Graad A.

Die behoefte om hierdie kursusse aan te bied het by gemeenskappe en buurtwagte ontstaan as ’n bewese noodsaaklikheid in die uitvoering van hul take.

Die privaat sekuriteitsbedryf in Suid-Afrika is volgens PSiRA (Private Security Industry Regulatory Authority) een van die grootstes ter wêreld, met meer as 9 000 geregistreerde maatskappye, 450 000 geregistreerde aktiewe privaat sekuriteitswagte en ’n verdere 1,8 miljoen gekwalifiseerde, maar onaktiewe wagte.

Voorts is dié industrie in die land groter as die SAPD en SANW se gekombineerde personeelvermoë. Soos wat vertroue in die polisiediens en die weermag se vermoë om gewone burgers veilig te hou afneem, en misdaad – veral geweldmisdaad – op kwesbare gemeenskappe toeneem, neem die behoefte na doeltreffende privaat sekuriteitsdienste ook toe.

Forum Sekuriteit se kernbesigheid behels die volgende:

  1. Die beskerming van die algemene publiek en die bevordering van die publiek se veiligheid;
  2. Die beskerming van openbare en/of privaat skole en die bevordering van hulle veiligheid;
  3. Die oprigting en handhawing van gewapendereaksie- en mediesenoodreaksie-eenhede van hoë gehalte;
  4. Die daarstel, ontwikkeling en bestuur van ’n polisiëringsvennootskap om misdaad doeltreffend te bekamp;
  5. Die patrollering en bewaking van gemeenskappe teen verdagte/kriminele handelinge en die arrestasie van misdadigers;
  6. Ondersteuning met die vervolging van misdadigers;
  7. Ondersteuning en berading aan misdaadslagoffers; en
  8. Om openbare bewusmakingsveldtogte van stapel te stuur met die oog op die bevordering van veiligheid.

Forum Sekuriteit wil bydra tot algemene burgerlike veiligheid deur:

  • In samewerking met buurtwagte ’n prominente rol te speel in die beveiliging en opleiding van kwesbare gemeenskappe;
  • Die ontplooiing van ’n mobiele beheerkamer in die geval van batebeskerming tydens onluste, optogte en massa-optredes;
  • In samewerking met AfriForum ’n prominente rol te speel in ankergemeenskappe; en
  • Die doeltreffende batebeskerming van skole, ouetehuise en enige ander lede van die publiek wie se eiendom of lewens bedreig word.

Vir meer inligting oor Forum Sekuriteit en kursusse en werkwinkels besoek die Facebook-blad of webtuiste by www.afriforum.co.za

Soortgelyke plasings