|

Forum Sekuriteit wys hul vernuf tydens demonstrasie

Deur Chanté Kelder

Gemeenskappe besef toenemend dat hulle in die huidige klimaat meer en meer verantwoordelik is vir hulle eie veiligheid, dit is dan ook belangrik om die regte strukture in plek te hê. Forum Sekuriteit, ’n sekuriteitsfirma wat deur die burgerregte-organisasie AfriForum op die been gebring is, het op Donderdag 29 Oktober tydens ’n demonstrasie by die Voortrekkermonument gewys dat hulle gerat is met die regte toerusting om gemeenskappe binne die raamwerk van die wet te beskerm.

Onder meer het Forum Sekuriteit ’n toerustingwa wat al hulle toerusting huisves en geredelik beskikbaar is vir  noodgevalle. Die firma se uniforms en sekuriteitswagte voldoen voorts ook aan PSIRA (Private Security Industry Regulatory Authority) standaarde. Hulle mobiele gesamentlike operasionele sentrum of mobiele GOS soos hulle dit noem, is toegerus met die nodige tegnologie en personeel om ’n noodsituasie te ontleed.

“Dit was belangrik vir AfriForum om sy eie reaktiewe vermoë te ontwikkel en om oor die nodige toerusting te beskik om kwesbare instansies soos skole en ouetehuise in bedreigde gemeenskappe te beveilig. Hierdie ideaal is verwesenlik in die vorm van Forum Sekuriteit,” sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder by AfriForum.

Forum Sekuriteit het ook opgeleide hommeltuigvlieëniers wat moontlike gevaarsones van ’n veilige afstand kan ontleed om sodoende nie onnodig hul personeel in gevaar te stel nie. Die beeldmateriaal wat deur die hommeltuie opgeneem word, word onmiddellik uitgebeeld op die skerms binne die mobiele operasionele sentrum waar die ontleder dadelik ’n opsomming van die situasie kan gee en raad kan gee oor hoe dit benader moet word. Dit is veral ’n handige vaardigheid tydens die ontleding van ’n protesaksie of grondgryp.

Soortgelyke plasings