|

FORUM TYDSKRIF WERP LIG OP 15 JAAR VAN SAAMSTAAN EN HOOP SKEP

Deur Alet Rademeyer

AfriForum se nuutste ledetydskrif, Forum Tydskrif, is vars van die drukpers af en op pad na ons lede toe.

In die Julie-uitgawe val die fokus op wat die burgerregte-organisasie die afgelope 15 jaar sedert sy bestaan in 2006 bereik het.

AfriForum se eerste openbare verskyning was in ’n artikel wat op 6 Maart 2006 in Rapport verskyn het en oor die stigting van ’n nuwe Afrikaanse organisasie genaamd AfriForum gehandel het. Die organisasie het met sy stigting geen lede gehad nie en slegs drie personeellede, naamlik Kallie Kriel, Alana Bailey en Annatjie Wirth.

AfriForum se groei en suksesse het alle verwagtinge oortref en die organisasie is vandag meer as 287 000 lede sterk.

In die woorde van Kallie Kriel, uitvoerende hoof, sou niks hiervan moontlik gewees het as dit nie vir genade van Bo en die vertroue en harde werk van ons lede was nie.

In hierdie uitgawe werp ons nie net lig op die hoogtepunte en suksesse wat AfriForum die afgelope dekade en ’n half gehad het nie, maar ons kyk ook wat in die afgelope maande in terme van veldtogte, projekte en aksies gebeur het. Daar is soveel voorbeelde van dorpe en stedelike gebiede wat beter lyk danksy die harde werk van vrywilligers en lede.

En van vrywilligers gepraat. In dié uitgawe vertel ’n handvol van hulle hoekom hulle daagliks gedryf word om te doen wat hulle doen. Hulle is ware staatmakers wat in vele opsigte vereer moet word.

Ons het ook by Rikus de Beer, aka Jonathan van Radio Raps, gaan kuier om te hoor hoe die inperking hom geraak het. Hy gee ook sommer ’n paar handige wenke vir entrepreneurs wat wonder hoe jy daardie unieke brand moet vestig en uitbou.

Teen die tyd wat jy hierdie uitgawe in jou hande hou, is ons hopelik uit vlak 4 van die staat van inperking. AfriForum is terdeë bewus van die ongelooflike moeilike tye waardeur die land en ook ons lede gaan. Ons hou vas aan hoop en glo dat dit binnekort met almal beter sal gaan.

Soortgelyke plasings