|

Gauteng se aanlyn aansoekproses vir 2021-skooljaar veroorsaak weer probleme

Die burgerregtewaghond AfriForum het vroeg vanoggend – kort nadat Gauteng se aanlyn aansoekproses vir voornemende graad 1- en graad 8-leerders sou open – reeds klagtes van ouers ontvang wat nie op die stelsel kon registreer om aansoek te doen by die skool van hul keuse nie.

Dit is die soveelste jaar wat die Departement van Onderwys in Gauteng se aanlyn stelsel misluk en verwarring, chaos en onsekerheid by ouers en skole skep.

Talle probleme wat vandag tydens die aanlyn aansoekproses geïdentifiseer is, sluit in dat:

  • die webblad onder konstruksie is;
  • gebruikers nie van een stap na ’n ander kan oorgaan nie;
  • adresverifikasie onnodig lank vat; en
  • persoonlike inligting nie voldoende volgens die wetgewing deur die stelsel beskerm word nie (die stelsel se een-keer-wagwoord- (OTP-) funksie moes afgestel word omdat dit stelselprobleme veroorsaak het).

“AfriForum voel steeds dat die aanlyn aansoekproses liewer in die hande van skole geplaas moet word sodat ouers direk by die skool van hul keuse kan aansoek doen. AfriForum wil skole ook gelukwens wat sover uit hul pad gegaan het om ouers met hierdie aansoekproses te ondersteun deur middel van aanlyn opedae, asook met die aansoekproses vandag,” sê Carien Bloem, bestuurder vir Onderwys by AfriForum.

Ouers word aangeraai om skermskote van hul aansoekproses te neem en, indien hulle vandag probleme met hul aansoeke ervaar het, die volgende stappe te volg:

  1. Moenie ophou probeer om aanlyn te registreer nie.
  2. Skakel die skool van jou keuse en lig hulle in oor jou probleem. Stuur ook ’n e-pos met jou kind se dokumentasie aan die skool sodat hulle van jou kind se aansoek weet – as hulle nie reeds weet nie.
  3. Stuur ook ’n volledige e-pos met skermskote, jou kind se naam en die skool waarby julle aansoek gedoen het, asook die probleme wat jy ervaar het aan gdeinfo@gauteng.gov.za en die hoof van die onderwysdepartement by mosuwe@gauteng.gov.za.

Indien ouers enige verdere inligting benodig, kan hulle AfriForum se webblad besoek of ’n e-pos stuur aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings