Gauteng-skoleregistrasie:

Die aanlyn aansoekplatform vir die 2023-plasing van graad 1- en graad 8-leerders in Gautengse skole open op 22 Julie 2022 om 08:00 en sluit weer op 19 Augustus 2022. As jy jou kinders vir 2023 vir een van hierdie grade by Gautengse skole wil inskryf, moedig ons jou aan om dit so gou moontlik op die webtuiste van die Gautengse Departement van Basiese Onderwys te doen. Hou die volgende in gedagte wanneer jy aansoek doen:

  1. Aansoeke vir plasing in Gautengse skole kan slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webtuiste ingedien word.
  2. Sommige skole vereis dat ’n aansoek vir rekorddoeleindes ook by die skool self ingedien word. Maak dus seker of die skool van jou keuse so ’n vereiste stel.
  3. Jy kan by maksimum vyf skole aansoek doen.
  4. Jy moet die volgende dokumentasie binne sewe dae indien by die skool/skole waar jy aansoek gedoen het, asook op die departement se webtuiste:
    • bewys van verblyf
    • elke ouer/voog se ID
    • elke leerder se jongste rapport
    • elke leerder se geboortesertifikaat

      Hierdie dokumente moet in .pdf-, .jpeg- of .pgn-formaat wees en mag nie groter as 2 MB per dokument wees nie.
  5. Ons raai jou aan om skermgrepe van elke stap in die aansoekproses te neem om as bewyse te dien indien daar later ’n dispuut oor die plasings van jou kind(ers) ontstaan.
  6. Ons raai jou ook aan om seker te maak dat jou kontakbesonderhede korrek is by die skool/skole waar jou kind(ers) tans skoolgaan.
  7. Die departement sal alle aanbiedinge vir plasings tussen 3 Oktober en 30 November per SMS na ouers/voogde se selfoonnommers stuur. Maak dus seker dat jy die korrekte selfoonnommer(s) tydens die aansoekproses verskaf.

Indien jy enige onoorkombare uitdagings met die aansoekproses ervaar, is jy welkom om AfriForum om hulp te nader deur onderwys@afriforum.co.za te e-pos of ons hieronder te laat weet.

Soortgelyke plasings