|

GAUTENGSE VULLISTERREINE TOON KOMMER VIR DIE TOEKOMS

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 9 uit 17 vullisterreine wat in Gauteng geoudit is het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is die meeste vullisterreine in Gauteng in ’n middelmatige toestand. “Meer as 50% van die vullisterreine is in ’n goeie toestand en die res is in haglike toestande. Dit skep groot kommer oor die toekoms van ons vullisterreine in die volgende vyf jaar.”

Steinberg sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die algehele wanbestuur van die terreine, asook die “pickers”-stelsel wat op alle terreine bestaan en vergroot. Die wanbestuur van vullisterreine lei daartoe dat dit geweldig agteruitgaan, wat weer bydra tot meer onwettige storting van vullis in gemeenskappe.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses vullisterreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te pak en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings