|

Gedugte Selebi-ondersoekspan nou deel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag by AfriForum se derde nasionale kongres die gedugte ondersoekspan in sy kantoor bekendgestel.

Nel het gesê hy werk met ’n ongelooflike span mense wat jare se ondervinding het en almal deel was van die destydse ondersoekspan wat tot Jackie Selebi, voormalige nasionale polisiekommissaris, se vervolging gelei het.

Die span is Andrew Leask, voormalige moord-en- roofpolisieman met meer as 20 jaar se ondervinding.

Slang Maangwale , ’n veiligheidspolisieman wat meer as 18 jaar by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gewerk het.

Heidi Mogashwa, Nel se regterhand, werk sedert 1999 saam met hom en is verskeie tale magtig.

Chris Gouws is ’n kommersiële ondersoeker en Nantes Kelder was ook jare lank in die polisie en die afgelope tien jaar by AfriForum.

Adv. Phyllis Vorster was ook voorheen by die NVG en skram volgens Nel nie van senior sake weg nie.

Volgens Nel het vier lede van die span die Skerpioene saam met hom begin.

Hy het oor die werksaamhede van die eenheid gepraat en gesê die eenheid se doel is om werklike geregtigheid vir almal te bewerkstellig. Hy het verwys na die sake wat tans aan die gang is en die vordering wat daarmee gemaak word. In van die sake soos Grace Mugabe en Duduzane Zuma is reeds oorwinnings behaal.

Nel het ook aangekondig dat die NGV die saak van Alexis Bizos, die seun van die wêreldberoemde menseregte-advokaat, George Bizos, heroorweeg.

Dit volg nadat Alexis Bizos sy vrou, Monique van Oosterhout, glo in Maart 2015 aangerand het. Oosterhout was só ernstig deur Bizos aangerand dat sy ses gebreekte ribbes opgedoen het.

Hy het gesê die eenheid wil ook meer op fluitjieblasers fokus sodat mense nie enige vrees sal hê om na vore te kom om korrupsie aan te meld nie.

“Ons privaatvervolgingseenheid is besig om hoop te skep en ons werk baie hard om vertroue in die regstelsel te herstel.”

Soortgelyke plasings