|

Gee boere ook veiligheidsmaand soos vir polisielede – AfriForum

download (2)

Dit is ironies dat die polisie kan bekend maak dat 22 polisielede sedert April in misdaadvoorvalle landwyd dood is, terwyl dit ’n nagmerrie is om enige statistiek oor plaasmoorde uit hulle te kry. Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is dit skreiend dat die polisie nie statistiek oor moorde op boere wil bekend maak nie as in ag geneem word dat daar sedert die begin van die jaar reeds 28 boere vermoor is.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het vandeesweek gesê 8 polisielede is sedert April vanjaar aan diens dood en 14 terwyl hulle nie aan diens was nie. Dié syfer is min of meer dieselfde vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe 23 polisielede vermoor is.

“As proporsioneel daarna gekyk word, word aansienlik meer boere as polisielede vermoor. Daar is sowat 190 000 polisielede in die land en 30 000 kommersiële boere. Die moordsyfer vir gewone burgers is 37 per 100 000, vir polisielede 54 per 100 000 en vir boere 130 per 100 000,” verduidelik Cameron.

“Ons dring steeds daarop aan dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Die redes hiervoor is die frekwensie van die aanvalle, die brutaliteit waarmee dit gepaard gaan, die rol wat boere as werkgewers en kosverskaffers speel en die dikwels geïsoleerde ligging van plase.”

Cameron het gesê dit is tragies dat soveel polisielede in Suid-Afrika hul lewens verloor. Hy verwelkom dit dat September tot polisie-veiligheidsmaand verklaar is. “Dieselfde moet egter vir boere gedoen word wat tans die heel gevaarlikste beroep in die land beoefen.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie gaan binnekort saam met slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle ’n verskerpte veldtog hê om Nathi Nhleko, minister van polisie, en Riah Phiyega, polisiekommissaris, tot verantwoording te roep om plaasmoordsyfers bekend te maak.

“Herhaalde versoeke en pleidooie in die verband het net op dowe ore bly val.”

Soortgelyke plasings