|

GEEN VOLDOENDE REDES OM PLAASLIKE VERKIESING UIT TE STEL NIE

Die burgerregteorganisasie AfriForum het aan die Onafhanklike Verkiesingskommssie (OVK) geskryf om te versoek dat vanjaar se plaaslike verkiesing nie tot ná 2021 uitgestel word nie. Dit volg op die EFF se versoek om die verkiesing tot 2024 uit te stel.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die uitstel van die verkiesing bring logistieke probleme mee en ’n grondwetlike wysiging sal boonop nodig wees. “Die OVK kan daarom slegs die verkiesing ingevolge artikel 21 van die Grondwet skuif. Dié artikel bepaal dat die uitstel steeds binne die ander grondwetlike bepalings en ander wette hanteer moet word.

“Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture is dit eens dat die munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie. Die Grondwet sal dus eers verander moet word voordat die OVK dié verkiesing tot 2024 kan uitstel.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê daar is nie dwingende en voldoende bewyse om die verkiesing nou al uit te stel nie. “Ten spyte daarvan dat COVID-19 ontwrigting veroorsaak, kan baie dinge vanjaar nog gebeur en dit is onnodig om nou al só ’n groot besluit te neem. Daar is ook talle suksesvolle tussenverkiesings oor die laaste jaar in Suid-Afrika gehou en politieke partye kan solank op ander wyses veldtogte voer en bewusmaking skep as deur middel van fisiese byeenkomste. Partye begin in elk geval eers eintlik kort voor verkiesings om saamtrekke te hou en daarom kan daar nie nou al ’n drastiese besluit oor die uitstel van die verkiesing geneem word nie.”

Volgens Brink is daar ook nie wydverspreide steun vir die uitstel van die verkiesing nie. “Niks dui daarop dat die publiek dit steun nie en geen ander party buiten die EFF het al versoek dat die verkiesing uitgestel word nie. Ons weet nie wat die trajek van die virus in 2021 sal wees nie, maar dit is bloot te vroeg om enigsins daaraan te dink om die verkiesing uit te stel. Indien die omstandighede tot so ’n mate versleg, kan nuwe maatreëls – ook stappe anders as die uitstel van die verkiesing – oorweeg word.”

Soortgelyke plasings