|

Gelykheidshof hoor argumente oor ou landsvlag aan

Die ou landsvlag is “rassisties, ’n simbool van rassehaat en mense wat dit in die openbaar vertoon, verlang terug na apartheid en die dominansie van wit mense oor swart mense”.

Dít is van die betoë wat regter Phineas Mojapelo vandag in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor het. Die hof sit as gelykheidshof. Die Nelson Mandela-stigting (NMS) en die Menseregtekommissie (MRK) het ’n aansoek gebring om ’n verklarende bevel te kry oor duidelikheid oor die definisie van haatspraak, soos vervat in art. 10 van die gelykheidswet (die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die voorkoming van Onregmatige Diskriminasie).

Die NMS en MRK hoop dat die vertoon van die ou vlag verbied kan word. Die partye se argumente word ondersteun deur Johannesburg Pride en die minister en departement van justisie en korrektiewe dienste. Die partye vra nie in dié huidige aansoek vir die totale verbanning van die vlag nie en voer aan dat dit in die konteks van byvoorbeeld museums tuishoort. Daar is ook nie oor die private besit daarvan betoog nie.

Die NMS het die aansoek aanvanklik teen AfriForum gebring nadat die NMS aangevoer het dat lede van die burgerregte-organisasie die ou vlag teen Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 vertoon het. AfriForum staan die aansoek teen en ontken ook die aantygings.

AfriForum voer in hofstukke aan dat ’n wye verbanning van die ou vlag ongrondwetlik sal wees en sal neerkom op ’n miskenning van spraakvryheid.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, woon die hofverrigtinge by.

Volgens Roets is AfriForum daartoe verbind om die reg op vryheid van spraak te beskerm, terwyl aktiewe stappe gedoen moet word om ware haatspraak te beveg.

AfriForum gee toe dat die ou vlag die kapasiteit het om aanstoot te gee en emosionele ongemaklikheid te veroorsaak. Die organisasie moedig die vertoon van die vlag ook glad nie aan nie.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, namens die NMS, het in sy betoog na AfriForum gekap en gesê die organisasie neem nie in ag wat die werklike impak van die ou vlag is nie.

Volgens Ngcukaitobi maak die ou vlag mense “diep seer” en is dit vir baie ’n “simbool van apartheid”, wat “’n misdaad teen die mensdom is”.

Adv. Wim Trengrove, namens die MRK, het aangevoer dat mense wat ten gunste van die ou vlag en die vertoon daarvan is, “terug hunker na ’n orde wat rassisme en wit oorheersing bevorder het en swart mense as minderwaardig geag het”. Dit is ’n simbool wat “haat van wit mense oor swart mense propageer”. Daarbenewens identifiseer diegene wat die ou vlag vertoon nie met die huidige vlag van die nierassige, diverse en demokratiese Suid-Afrika nie.

Adv. Mark Oppenheimer, namens AfriForum, het in sy betoog beklemtoon dat vryheid van spraak nie kan beteken dat sekere vryhede ten koste van ander onderdruk kan word nie. “In ’n vry en oop samelewing moet vryheid van spraak beskerm word, al hou nie almal daarvan nie. Daar moet verdraagsaamheid vir simbole wees, al stem almal nie daarmee saam nie. Ons kan nie alle simbole verwerp net omdat dit deel van die verlede is nie. Daar moet verdraagsaamheid vir ’n verskeidenheid van sienings wees. Onpopulêre idees kan nie in ’n demokrasie doodgesmoor word nie.”

Oppenheimer het aangevoer dat onderdrukking van spraakvryheid neerkom op die onderdrukking van denke en die soeke na waarheid.

Hy het verwys na uitsprake wat wyle oudpres. Nelson Mandela rondom vryheid en vryheid van spraak gemaak het wat daarop neerkom dat die vryheid van een groep nie bo die van ’n ander gestel kan word nie. Hy het ook die voorbeeld van die Springbok-rugbyspan se embleem gebruik wat aanvanklik as ’n simbool van haat bestempel is. Mandela het daarop gewys dat simbole meer as een betekenis kan hê.

Die saak duur voort.

Soortgelyke plasings