|

Gemeenskap gryp in om verval in Potchefstroom te stuit

AfriForum se Potchefstroom-tak het op 15 September 2020 aan ’n groot skoonmaakinisiatief deelgeneem. Dié inisiatief is deur die sakekamer van dié dorp gereël as deel van die Nasionale Skoonmaak- en Herwinningsweek. Dié tak het in samewerking met TrotsPotch, Deswalner Recycling en J. Hattingh Accountants die middelmannetjies tussen die MooiRivier Mall en die Riverwalk-inkopiesentrum skoongemaak.

Hierdie inisiatief spruit uit die haglike toestand waarin die dorp tans verkeer. Die verval van hierdie eens pragtige dorp weens munisipale wanbestuur, het inwoners aangespoor om self aan die werk te spring. 21 inwoners het om 06:00 begin met die opruiming van die dorp en het op 16 September met die reuse-opruimingstaak klaargemaak.

“Dit is ’n opoffering om so vroeg op te staan en jou hande te gaan vuilmaak met iets wat eintlik die munisipaliteit se werk is. Die bevrediging om te sien hoe die plek al hoe beter lyk, maak die opoffering egter die moeite werd. Ek is opgewonde as ek sien dat mense toenemend besef dat as jy nie self die verskil maak nie, daar geen verskil sal wees nie. Jy het altyd ’n keuse; jy kan deel van die klaspan bly of deel van die wenspan word en sien hoe jou omgewing verbeter,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die AfriForum-tak hou van 10 tot 17 Oktober ’n #VegEnBou-week in Potchefstroom waartydens verskeie projekte gaan plaasvind. Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. Kontak gerus vir Leanie van Ronge by 072 314 1774 om betrokke te raak. Hou ook AfriForum se sosiale media dop vir die program van daardie week.

Soortgelyke plasings