|

GEMEENSKAPSINSTELLINGS MOET BY VERKRAGTINGSKRISIS INGRYP

Deur Alet Rademeyer

Suid-Afrika word gereeld as die land met die hoogste verkragtingsyfer ter wêreld bestempel met ’n geraamde 132,4 verkragtings per 100 000 inwoners.

Dit is baie duidelik dat die regering nie by magte is om sy burgers doeltreffend teen geweldsmisdaad soos verkragting te beskerm nie. Daarbenewens laat die regstelsel duisende slagoffers ook in die steek weens ’n baie lae sukseskoers om oortreders te vang en te vervolg.

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld-veldtog, wat op 25 November afgeskop het, loop Donderdag ten einde. AfriForum het vandag as deel van sy steun vir die internasionale veldtog ’n omvattende verslag getiteld Serial Rape in South Africa op ’n nuuskonferensie bekendgemaak.

Die verslag is saamgestel uit nuusberigte, beskikbare data, navorsing deur verskeie instellings, hofsake asook ander bronne wat geraadpleeg is.

Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte, sê die Suid-Afrikaanse regering misluk daarin om misdaad te bekamp, veral gewelddadige misdade soos verkragtings.

“Die regering versuim om ’n voldoende strafregstelsel daar te stel en daar is geen dringendheid om drastiese maatreëls in te stel om misdaad te probeer bekamp nie. Al die stappe wat die regering doen om die probleem hok te slaan, is slegs reaktief.”

Sy meen die regering behoort dit vir gemeenskappe en gemeenskapsinstellings makliker te maak om die krisis te help oplos. Verkragters moenie so maklik op borgtog of parool vrygelaat word om weer te oortree nie. Burgerlike organisasies moet die regering verantwoordelik hou en ook kapasiteit ontwikkel om verkragtingslagoffers in hofsake by te staan.

Barend Uys, AfriForum se hoof van Navorsing, sê die verwysing na Suid-Afrika as die “verkragtingsbrandpunt van die wêreld” bevestig dat verkragting ’n reusekrisis in die land is en dat hierdie krisis lankal reeds bestaan.

Hy het verwys na die gebroke regstelsel waar landdroste en regters al dikwels twyfelagtige uitsprake in verkragtingsake gelewer het.

Volgens die jongste misdaadstatistieke van die SAPD het die getal gerapporteerde seksuele misdrywe van 52 420 in 2018/19 toegeneem tot 53 293 in 2019/20. Van die gevalle in 2019/20 was 42 289 verkragtings. Dit kom neer op ’n gemiddeld van 116 verkragtings wat daagliks wel by die polisie aangemeld word.

Ondanks die onlangse toename in sake wat wel aangemeld is, is onderrapportering steeds ’n baie groot probleem. Indien dit in ag geneem word, was daar volgens nog ’n verslag in 2010/11 sowat 300 000 verkragtings in Gauteng alleen. Dit beteken sowat 860 verkragtings per dag.

Een van die redes waarom sake dikwels nie aangemeld word nie hou verband met die suksesvolle vervolging van oortreders. In ’n studie wat die Mediese Navorsingsraad in 2012 gedoen het, is gekyk na 3 952 verkragtingsake wat aangemeld is. Hiervan was 94,1% van die slagoffers vroue en 5,9% mans. 46% van die slagoffers was kinders jonger as 18 jaar. Die studie het bevind daar was in net 8,6% van die sake ’n skuldigbevinding, terwyl net 6,2% van die oortreders wat skuldig bevind is, tronkstraf opgelê is.

Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, stigter van die Prinses Gabo-stigting, sê die enorme probleem van verkragting dui op ’n gebroke samelewing en mense sal eers van haat en bitterheid moet genees om by ’n beter samelewing uit te kom. “Ons moet dringend kyk na die herstel van die morele vesel van die samelewing en die vlak van agteruitgang.

“As ’n tradisionele leier sê ek ons moet gesonde gemeenskappe en gesinne bou. Tradisionele rituele soos inisiasie kan nie gebruik word om ’n wanvoorstelling van kultuur te maak nie. Die omvang van geslagsgeweld getuig van baie woede en bitterheid en dit moet uit die weg geruim word as ons in nasiebou glo.”

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, sê burgers moet self verantwoordelikheid neem vir hul veiligheid.

“Omdat baie verkragtings tydens huisrooftogte plaasvind, moet huisbewoners seker maak dat hulle die beste veiligheidsmaatreëls in plek het. Burgers moet dit ook oorweeg om vuurwapens wettig te bekom om hulself te kan verdedig.”

Hy het ook gewys op die belangrike rol wat AfriForum se trauma-eenheid speel om slagoffers met berading te help en tydens hofsake by te staan.

Lees die volledige verslag hier.

Barend Uys, AfriForum se hoof van Navorsing

Barend Uys, AfriForum se hoof van Navorsing, en Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte

Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte, en Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, stigter van die Prinses Gabo-stigting

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n omvattende verslag, Serial Rape in South Africa, oor die verkragtingkrisis in Suid-Afrika gepubliseer

Soortgelyke plasings