|

Gemoedere loop hoog ná Senekal-gemeenskap nie Horner-moordverdagtes sien

Deur Alet Rademeyer

Chaos het omstreeks twaalfuur by die landdroshof in Senekal uitgebreek waar die moordverdagtes van Brendin Horner (21) vlugtig verskyn het.

Duisende mense het na die dorp opgeruk om hul woede en misnoeë te kenne te gee.

Horner, ’n plaasbestuurder van die Bloukruin Boerdery in Paul Roux, is Donderdagaand wreed deur vermeende veediewe vermoor. Hy is met ’n mes gesteek en het kop- en gesigbeserings gehad. Sy hande was ook stukkend geslaan soos wat hy homself teen sy aanvallers probeer verset het. Hulle het sy lyk aan ’n paal vasgemaak en die mes is op sy pet gekry.

Die wyse waarop hy om die lewe gebring is, het skokgolwe deur die land gestuur en honderde mense het vandag van sover as Pretoria, Johannesburg, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal gekom, om een boodskap oor te dra: “Genoeg is genoeg.”

Mense het baie lank buite die hof gestaan en ook plakkate vertoon, terwyl gemeenskaps- en landbouleiers toesprake gelewer het.

Nadat dit duidelik geword het dat niemand die beskuldigdes, Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, gaan sien nie en dat die saak tot 16 Oktober uitgestel is, het ’n groep mense die hof binnegestorm. Skote is in die hofgebou gehoor, terwyl ’n polisievoertuig later buite omgegooi is en na bewering aan die brand gesteek is.

Ernst Roets, Hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dit is duidelik dat die mense en gemeenskap woedend oor plaasmoorde is en ook oor die feit dat daar eenvoudig nie ’n behoorlike reaksie van die regering is nie. Hy het egter gemaan dat vigilante optrede nie goed is nie en dat die reg sy gang moet gaan.

Roets het ook gesê daar moet voortgegaan word om druk op die regering te plaas en plaaslike en internasionale aksies teen plaasmoorde te hou. Voorts moet mense meer betrokke raak in hul gemeenskappe en hulself beter beveilig.

“Die mense is om dit sagkens te stel verby keelvol.”

Roets het voorts gesê die wyse waarop nie net Brendin vermoor is nie, maar duisende ander boere in die land, dui op ’n tendens van terreur.

Anton Schutte, ’n boer van Senekal, het gesê hy is by die hof omdat hy ook in die omgewing boer en ’n boer is net soos die ‘arme ou’ wat doodgemaak is. “Dis onnodig. Ek is hier om ondersteuning aan sy familie te gee. Al ons boere wat hier is, is in ’n gevaarsone.”

Schutte meen plaasmoorde moet ’n prioriteitsmisdaad wees. “As mens kyk na die uitsprake van sekere ministers moet iets gedoen word. Daar moet opgetree word. Die regering moet meer daaraan dink om die boere te beskerm. Al is daar net ’n taakmag sal dit al klaar help.”

Piet Coetzer, ’n boer en ook betrokke by die Senekal Ruiterklub, sê hulle is “gatvol vir mense wat wit boere doodmaak.”

Basjan, Brendin se broer, het buite die hof hul gevoel as hartseer en rou beskryf. “Woorde kan dit nie beskryf nie. Niks gaan my broer terugbring nie, maar ek hoop dat hy vir sy land gesterf het, vir sy medeboere, sy medeplaasbestuurders en vir ’n beter Suid-Afrika vorentoe.”

Brendin se pa, Robbie, was emosioneel en kwaad buite die hof. “Hulle het die verkeerde man se kind gevat. Hulle het ’n ou Recce se kind gevat.”

Herkie Viljoen, nog ’n boer en veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, het gesê Bheki Cele, minister van polisie, moet antwoorde gee oor wat met die verslag gebeur het wat boere in Januarie aan die Valke oorhandig het oor korrupsie in die polisiestasie in Paul Roux.

Hy het gesê as die polisie hul werk gedoen het, sou die bende veediewe wat hulle al twee jaar lank terroriseer agter tralies gewees het en sou Horner se moord nie plaasgevind het nie.

Tommy Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid vir landelike veiligheid, sê die bywoning deur duisende mense en voertuie is ’n duidelike bewys dat mense nou breekpunt bereik het. “’n Boer het my gebel wat dit as ’n kruitvat beskryf en die lont is nou baie kort… Ek is bevrees dit is die boodskap wat die regering nou moet kry.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, die familieboerorganisasie, het gewys op ’n humanitêre krisis waarop afgestuur word.

“Horner se moord word nie net dwarsoor Suid-Afrika veroordeel nie, maar selfs in Europa en Noord-Amerika het dit opslae gemaak. Namate meer Engelse media oor die aard en omvang van plaasmoorde berig, word al ernstiger vrae gevra oor die humanitêre krisis, en die regering se hantering daarvan.”

Hy het gesê almal wat vandag in Senekal is, se harte gaan uit na Brendin se familie. “Elke boer in Suid-Afrika huil vandag saam met hulle. Ons is hier om ’n boodskap te stuur dat die brutaliteit wat met plaasmoorde gepaard gaan nou ’n vlak bereik het wat erger is as enige oorlog wat op hierdie oomblik in die wêreld aan die gang is.”

*Foto’s deur Reint Dykema.

Soortgelyke plasings