|

Genoeg is genoeg: Cele se kop moet rol

Bheki Cele, die minister van Polisie, is die afgelope twee weke vir die soveelste keer in die nuus nadat hy Ian Cameron, direkteur van die burgerregtegroep Action Society, onlangs tydens ’n gemeenskapsvergadering in die Kaap verskree het.

Cele se omstrede loopbaan het ná die voorval weer onder die vergrootglas beland en verskeie politieke partye en organisasies eis nou – met goeie rede – Cele se afdanking.

Ná Cele se jongste uitbarsting het dit ook aan die lig gekom dat hy betrek word by ’n R47 miljoen tenderskandaal tydens die Fifa Wêreldbekertoernooi in 2010. Adjunk-polisiekommissaris, lt.genl. Francinah Vuma, het in ’n beskermde openbaarmaking aan pres. Cyril Ramaphosa verskeie verdoemende aantygings teen Cele gemaak.

Volgens Vuma, wat reeds 34 jaar in diens van die SAPD is, het Cele ingemeng by verkrygingskontrakte en miljoene rande van die staatskas gebruik om vir sy eie regskoste en vir oorsese reise te betaal.

Dít terwyl Suid-Afrikaners daagliks in vrees leef en die SAPD duidelik nie genoeg mannekrag of hulpbronne het om misdaad daadwerklik te bekamp nie. 67 mense word daagliks vermoor en 153 verkrag.

Sedert 2019 het die getal speurders in die polisiediens ook met 1 300 afgeneem wat beteken dat speurders se lessenaars oorloop van sake wat heel moontlik jare gaan neem om te ondersoek en op te los, terwyl nuwe sake net meer en meer word en misdadigers nooit aangekeer word nie. Polisiebeamptes en slagoffers van misdaad kan ook getuig van die tekorte aan hulpbronne.

Cele het vroeër vanjaar op ’n parlementêre vraag geantwoord dat 20% van die voertuie wat speurders moet gebruik, nie in ’n werkende toestand is nie. Baie polisiestasies in klein dorpe kan in baie gevalle nie na misdaadtonele gaan of op ’n noodgeval reageer nie omdat die polisievoertuie nie in stand gehou word nie.

Cele het keer op keer bewys dat hy nie bevoeg is om die land se polisieminister te wees nie. Hy is reeds in 2009 afgedank as polisiekommissaris weens onvanpaste optrede en wanadministrasie.

Hy is ook geen vriend van die land se boere nie en weier om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar. In 2020 het hy tydens ’n gemeenskapsvergadering in Normandien in KwaZulu-Natal teen boere uitgevaar nadat hy, polisiebeamptes en boere van dié omgewing byeengekom het om landelike veiligheidsprobleme te bespreek ná ’n dubbele plaasmoord.

Derduisende vuurwapens is ook tydens sy termyn by polisiestasies gesteel en Suid-Afrika het die afgelope jaar die ergste onluste sedert 1994 beleef.

Gegewe hierdie swak rekord van ’n minister wat duidelik nie geskik is vir sy amp nie, het AfriForum ook vandag ’n beroep op Ramaphosa gedoen om Cele onmiddellik af te dank.

“Die minister van Polisie misluk klaaglik in sy mandaat om die land se burgers te beskerm en hy het reeds bewys dat hy onbevoeg is om hierdie belangrike rol te vervul,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in ’n brief aan Ramaphosa.

Soortgelyke plasings