|

GEREGTELIKE ONDERSOEK NA DOOD VAN DEEDAT-GESIN GAAN IN DESEMBER VOORT

Die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van Suraya Deedat en haar vier kinders in 2011 sal op 7 Desember 2020 in die Johannesburgse Landdroshof voortgaan. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verteenwoordig die familie van Suraya en haar kinders. Naeem, Suraya se man, is die enigste lid van die gesin wat die brand oorleef het waarin Suraya en haar kinders oorlede is. Naeem is ’n persoon van belang in hierdie ondersoek.

Die patoloog wat die nadoodse ondersoek gedoen het, asook Suraya se ma, Nazeema Ahmed, het onderskeidelik op 23 en 25 November getuienis gelewer. Ahmed sal op 7 Desember kruisondervra word.

Die patoloog het getuig dat al vyf liggame (wat kinders tussen die ouderdom van ses maande en vier jaar ingesluit het)  brandwonde van só ’n aard opgedoen het dat daar ernstige skade aan elkeen se organe was. Die vuur was só warm dat van die kinders se ledemate heeltemal weggebrand het. Al vyf die slagoffers was ook volgens die patoloog lewend tydens die brand, maar daar kan egter nie bepaal word of hulle bewusteloos was nie.

Suraya se ma het getuig dat Suraya die gesin se enigste broodwinner was en dat Naeem vir die duur van die huwelik byna deurentyd werkloos was. Suraya het onder meer ’n onderneming bedryf waar sy hoenderstukke verkoop het. Volgens Ahmed het Suraya haar ook kort voor die brand gevra om R50 000 in kontant – wat sy in ’n doeksak gebêre het – vir haar in bewaring te neem. Ahmed wou egter nie soveel geld in haar huis hou nie. Suraya se familie weet nie wat van hierdie geld of die voorraad van Suraya se onderneming geword het na afloop van die brand nie. Ahmed het wel die doeksak op een van die foto’s van die toneel uitgewys. Die doeksak het nie gebrand nie. Die brand het in die oggendure plaasgevind en Naeem het dieselfde dag nog weer die huis besoek om, volgens Ahmed, items bymekaar te maak wat nie deur die brand beskadig is nie, ten spyte van die feit dat hy nie eens sy kinders of vrou se lyke wou uitken of die seremoniële roudae wou bywoon nie. Al besittings wat die familie van Suraya gekry het, was ’n paar persoonlike items wat iemand in ’n swart plastieksak op die sypaadjie gelos het.

Ahmed het ook getuig dat sy en haar man gereeld gesien het dat Naeem vir Suraya in die huis toesluit wanneer hy die huis verlaat het en dat Suraya en Naeem nie ’n gelukkige huwelik gehad het nie. Ahmed het verder getuig dat Naeem se familie slegs vir hóm klere gebring het nadat iemand hulle gebel het om hulle in kennis te stel van die brand, ten spyte van die feit dat hulle nie op daardie stadium sou kon weet dat hy die enigste oorlewende was nie. Naeem het ook nie ter enige tyd ná die brand met die Ahmed-gesin kontak gemaak of gepoog om te verduidelik wat op die aand van die brand gebeur het nie.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid hoop dat die GDO tot geregtigheid vir Suraya se familie sal lei. Dit is belangrik dat ons by sake soos hierdie betrokke raak, omdat geregtigheid moet geskied vir hierdie gesin wat al vir nege jaar wag op antwoorde oor wat daardie aand gebeur het. Ons is wel van mening dat hierdie ’n prima facie-saak is en dat die staat vervolging behoort in te stel,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings