Geregtigheid seëvier vir AfriForum-takvoorsitter na #SwartMaandag-voorval


Die saak teen Isolde Laesecke, ‘n AfriForum-takvoorsitter van die Vrystaat, wat in 2016 aangekla is vir die reël van ‘n onwettige byeenkoms en verkeersontwrigting, is vandag in die landdroshof in Bethlehem teruggetrek.
Laesecke, asook drie ander mense in Limpopo, is na bewering in November 2016 aangesê om by hul onderskeie polisiekantore aan te meld na afloop van hul deelname aan die #SwartMaandag-optogte, ‘n nasionale bewusmakingsaksie teen plaasmoorde.
Laesecke sê sy was verbaas oor die klagte omdat die betogers in Bethlehem skriftelike toestemming gehad om met die optog voort te gaan. Die optog is ook op privaat eiendom gehou in die dorp se industriële gebied.

Sy is van mening dat die klag teen haar polities gedrewe is. “Ek is baie verlig dat die saak afgehandel is, maar ook bitter omdat dit ‘n mors van tyd en belastingbetalers se geld is om my drie keer in ‘n hof te laat verskyn voordat iemand na die wetlike aspekte gekyk het,” sê Laesecke.
Barend Uys, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die burgerregte-organisasie deurgaans by Laesecke gestaan het en aan haar die nodige ondersteuning gegee het. “AfriForum-lede kan verseker wees van die organisasie se bystand wanneer hulle onregverdig behandel word of daar onregmatig teen hulle opgetree word,” sê Uys.

Soortgelyke plasings