|

Gerrie “Bulhond” Nel by AfriForum om korruptes te vervolg

Die prominente Suid-Afrikaanse aanklaer, adv. Gerrie Nel, het by AfriForum aangesluit om die burgerregte-organisasie se private vervolgingseenheid op die been te bring.

Die nuus van Nel se bedanking by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vroeër vandag ’n opskudding veroorsaak en ’n storm op sosiale media ontketen.

Sy aanstelling by AfriForum is op ’n mediakonferensie by die organisasie se hoofkantoor in Centurion bekendgemaak.

Nel, wat amptelik op 1 Februarie by AfriForum begin, het gesê hy glo in die oppergesag van die reg.

Volgens hom het hy besluit om die pos te aanvaar omdat hy bekommerd is oor die NVG se geneigdheid tot selektiewe vervolgings en dat almal skynbaar nie gelyk voor die reg is nie.

Nel het gesê dat sy  besluit egter nie gister geneem is nie, maar dat daar  al vir langer as ’n jaar konsultasie en gesprekke rondom sy besluit was. “Toe ek die besluit geneem het, was dit nie ligtelik nie.  Ek is in my hart ’n aanklaer en ek sal dit altyd wees.”

“Ek glo in die oppergesag van die reg. AfriForum se pasgestigte privaat vervolgingseenheid bied aan my die geleentheid om vanuit die burgerlike samelewing te help verseker dat geregtigheid seëvier, ongeag die posisie van die persoon wat aan korrupsie skuldig is. Ek en AfriForum is nou in ’n posisie om korrupte persone wat nie deur die NVG vervolg word nie self te vervolg.”

Suid-Afrikaanse wetgewing maak privaat vervolging moontlik in gevalle waar die NVG besluit om iemand wat van ’n misdryf verdink word nie te vervolg nie.

Nel is sedert die tagtigs ’n aanklaer wat prominente aansien onder talle Suid-Afrikaners gekry het. Het het ook internasionaal aansien verwerf vir die suksesvolle vervolging van die paralimpiese atleet Oscar Pistorius. Hy is ook in 2011 wyd geloof toe hy Jackie Selebi, voormalige president van Interpol en nasionale polisiekommissaris, weens korrupsie in die tronk laat beland het.

Nel gaan eerste begin met ’n ondersoek om te bepaal watter openbare amptenare teen wie daar ’n sterk saak is, nie vervolg word nie. “AfriForum se privaat vervolgingseenheid sal die lys van verdagtes wat geïdentifiseer word saam met inligting oor korrupte persone wat van die publiek ontvang word oorweeg om te bepaal wie eerste vervolg gaan word. ’n Aankondiging hieroor sal volg sodra die proses afgehandel is,” het hy gesê.

 

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê Nel se aanstelling is ’n reusestap vorentoe in AfriForum se stryd teen korrupsie en die plundering van belastingbetalers se geld. Volgens Kriel vertrou hy dat Nel se aanstelling ’n duidelike boodskap aan korrupte politici en amptenare op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak sal stuur dat hulle nie langer weens hul politieke kontakte van vervolging gevrywaar is nie. “Korrupte persone moet besef dat niemand bo die reg verhewe is nie, selfs nie die land se president nie.”

Kriel het daarop gewys dat, hoewel dit baie duur is om privaat te vervolg, beteken Nel se aanstelling by AfriForum dat privaat vervolging nie meer ’n onhaalbare droom is nie. “Elke lid van die publiek kan ’n groot rol speel om die nuwe vervolgingseenheid sterker te maak deur tot die regskoste by te dra.”

Prof. Koos Malan, regskenner en dosent verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), het gesê in die lig van die algehele verval van die staat met in begrip van soveel staatsfunksies soos vervolging, veiligheid en misdaadbekamping, is dit nie vreemd dat van die land se voorste aanklaers ’n aanbod aanvaar om by privaat vervolging betrokke te raak nie. “Dit is inteendeel reeds deel van ’n goed gevestigde praktyk waar mense die polisie en openbare beskermer verlaat om eerder hul gewig by privaat vervolging en die sekuriteitsbedryf in te gooi.

“Dit is ’n gewenste ontwikkeling veral gegewe die feit dat privaat vervolgers nie sal deurloop onder die teistering waaronder die NVG die afgelope tyd is vanweë onbekwame hoofde nie.”

Om AfriForum sterker te maak en R10 tot die regsfonds by te dra, kan lede bloot hul name na 38312 SMS.

Volg die konferensie regstreeks by:

https://www.facebook.com/AfriForumNasionaal/

 

Soortgelyke plasings