Gerrie Nel en AfriForum gaan Nomgcobo Jiba privaat vervolg

 

AfriForum het vandag aangekondig dat daar met regstappe begin is om adv. Nomgcobo Jiba, voormalige waarnemende direkteur en tans adjunkdirekteur van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), op strafregtelike klagtes van bedrog en meineed privaat te vervolg.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, en AfriForum tree in die saak teen Jiba op namens genl.maj. Johan Booysen, die destydse hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. AfriForum voer aan dat Jiba meineed gepleeg het toe sy Booysen op ’n aanklag van rampokkery vervolg het. AfriForum en Booysen voer verder aan dat daar ’n duidelike gevolgtrekking gemaak kan word dat Booysen onregmatig deur Jiba geteiken is ná Booysen begin het om ondersoek in te stel na die sakebedrywighede van Thoshan Panday, ’n KwaZulu-Natalse sakeman wat noue bande met die Zuma-familie het.
Booysen het Jiba se destydse beslissing op hersiening geneem en regter Trevor Gorven het die aanklagte van rampokkery in Februarie 2014 in die KwaZulu-Natalse hoë hof in Durban tersyde gestel. Gorven het gesê daar bestaan geen rasionele verduideliking – “selfs losweg gedefinieer” – wat Jiba se beslissing steun nie.
Adv. Mxolisi Nxasana, wat Jiba destyds as die nasionale direkteur van openbare vervolgings vervang het, het in die lig van Gorven se uitspraak ’n ondersoek na Jiba se optrede teen Booysen geloods. Jiba is ná die ondersoek van meineed en bedrog aangekla, waarna sy in Julie 2015 in die streekshof in Pretoria verskyn het. Adv. Shaun Abrahams, wat Nxasana as die nasionale direkteur van openbare vervolgings vervang het, het – ondanks die mening van twee advokate wat aan dié saak toegewys is dat daar ’n sterk saak teen Jiba is – besluit om die saak teen haar terug te trek en meer mag onder haar te konsolideer in haar rol as adjunkdirekteur van die NVG.
Nel sê hy het besluit om Booysen by te staan in sy aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat aan te vra, wat AfriForum in staat sal stel om Jiba namens Booysen privaat te vervolg.
Nel verduidelik dat, indien die NVG die nolle prosequi-sertifikaat uitreik, AfriForum ingevolge wetgewing binne 90 dae met die privaatvervolgingsproses sal moet begin.

“Die vervolging sal dan presies soos enige ander strafregtelike saak voor ’n regter in die hof voortgaan, behalwe dat ek as aanklaer nie in diens van die NVG is nie,” sê Nel.
“Alle burgers is onderworpe aan die wette van die land. Niemand is vrygestel nie. Dit is ’n grondwetlike bevel vir die vervolgingsgesag om aan hierdie beginsel te voldoen. Aangesien dit voorkom asof die vervolgingsgesag hierdie beginsel afgeskaf het wanneer ’n besluit geneem word oor die vervolging van polities invloedryke individue, het ek besluit om my op die bepalings van die Strafproseswet te beroep om ’n privaat vervolging teen Nomgcobo Jiba in te stel,” sê Booysen.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is in belang van die beginsel van gelykheid voor die reg dat Jiba vervolg moet word.

“Net omdat Jiba in president Zuma se binnekring beweeg, beteken dit nie dat sy bo die reg verhewe is nie. AfriForum sal deur privaat vervolging help toesien dat geregtigheid geskied – ook wat die president en sy binnekring betref.”

Jiba word voorts ook in Jacques Pauw se nuwe boek The President’s Keepers uitgewys as een van die “beskermers” wat in president Zuma se binnekring beweeg.

Soortgelyke plasings