|

Gesamentlike oefening bring veiligheidstrukture in die Bo-Karoo byeen

Die AfriForum-tak in die Bo-Karoo se Havengabrug-protospan en die Orania-taakspan het op 27 Mei aan ’n gesamentlike veiligheidsoefening deelgeneem. Die doel van hierdie oefening was sodat die lede mekaar beter kon leer ken en om sodoende samewerking tussen dié twee groepe in die streek te versterk.

Altesaam 16 mense was deel van hierdie oefening onder leiding van Leo Prinsloo.

Die oefening het begin met ’n beplanningsessie by die Bo-Karoo Veiligheidsentrum. Daarna het die groep 5 km te voet oor ’n berg in die koue en donker beweeg om ’n plaashuis ongesiens te benader.

By die plaashuis het Prinsloo die spanne ook nuwe dissiplines geleer ­­- eers in die donker en daarna in die daglig tot die middag.

“Dit is vir die AfriForum Bo-Karoo-tak baie belangrik dat ons effektief saam met ander veiligheidstrukture in die streek moet saamwerk. Deur ’n oefening leer ons mekaar nie net ken nie maar weet ons ook waartoe ons in staat is, veral in omstandighede waar ons onder druk verkeer,” sê Magdaleen Kleynhans, voorsitter van die Bo-Karoo-tak.

Die tak beoog om sy veiligheidstrukture verder uit te brei in die streek en wil mense aanmoedig om betrokke te raak.

Om by AfriForum se Bo-Karoo-tak betrokke te raak, SMS “Bo-Karoo” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings