Gesamentlike veiligheidsoperasie werp vrugte af; talle onwettige immigrante gearresteer

 

AfriForum se Grootfontein CE-buurtwag in die ooste van Pretoria (deel van die Pretoria-Oos-tak) het die afgelope naweek in samewerking met die Tierpoort-buurtwag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Welbekend en Boschkop, asook die sekuriteitsmaatskappye Monitor Net en Cap ’n veiligheidsoperasie uitgevoer. Twee-en-twintig onwettige immigrante is tydens dié operasie gearresteer. 
Grootfontein, Tierpoort en Bashewa, almal in die ooste van Pretoria, het die afgelope paar maande erg onder misdaad gebuk gegaan. Die doel met die naweek se veiligheidsoperasie was om misdaad in dié gebiede te verlaag deur onder meer oop velde te ontbos, onwettige aktiwiteite in die kiem te smoor, gesteelde goedere terug te vind en onwettige immigrante op te spoor.
Sowat 50 buurtwaglede en inwoners het deelgeneem en opgeleide spoorsnyhonde, motorfietse en perde is ingespan om die operasie uit te voer. Emer-G-Med het noodbystand voorsien.

“Danksy goeie samewerking tussen die verskillende rolspelers was die veiligheidsoperasie ’n groot sukses. Ons vertrou dat kragte voortdurend saamgesnoer sal word om veiligheid te verhoog,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng.

AfriForum bedank elke persoon wat aan die operasie deelgeneem het vir hul bydrae.

Soortgelyke plasings