|

Gesin dankbaar moordenaars van hul bejaarde ouers is skuldig bevind

 

Die familielede van die vermoorde Fanie (78) en Colleen Engelbrecht (74) van die plaas Welgevonden naby Poortjie aan die Wes-Rand, het vandag van verligting gehuil toe die moordenaars van die egpaar aan moord, roof en die besit van onwettige vuurwapens skuldig bevind is.

Julius Mapayi Goncalves (24) en Jossias Nhalungo (36), beide van Mosambiek, is deur regter David Makoba in die Palm Ridge landdroshof aan die Oos-Rand skuldig bevind aan dié oortredings. Twee ander verdagtes is egter nog op vrye voet.

Die egpaar is op Moedersdag 2018 wreed vermoor nadat hulle van die kerk af tuisgekom het. Hul seun, Jo-An, het op hul lyke afgekom. Hy het ondersoek gaan instel nadat sy ouers nie betyds vir middagete opgedaag het nie.

Fanie se keel is afgesny en Colleen is met ’n strykyster gebrand en met die strykysteroord verwurg. Die skuldiges het met ’n tabletrekenaar, selfoon, kontant en twee vuurwapens gevlug.

Makoba het in sy uitspraak die moord as wreed en gewelddadig beskryf.

Een van die skuldiges, Nhalungo, het agt jaar vir die Engelbrechts gewerk. Hy het tydens die hofsaak aangevoer dat hy nie ten tyde van die aanval op die plaas was nie, maar na Mosambiek teruggekeer het. Hy het ook aangevoer die ander aanvallers het hom gedwing om R10 000 te aanvaar.

Makoba het Nhalungo se getuienis verwerp en gesê die ondersoek het bewys die hele groep het die aanval vooraf beplan. Hy het ook gesê Nhalungo se getuienis was nie konsekwent nie en dat hy boonop oneerlik was oor watter tale hy verstaan.

Jo-An het buite die hof gesê hy glo geregtigheid het geseëvier. “My pa was altyd kwaad as moordenaars nie gevang en gevonnis word nie. Hy sou vandag bly gewees het oor die uitspraak.

“Ons is verlig. Dit was ’n stresvolle en emosionele twee weke omdat ons elke dag al die gebeure van vooraf moes herleef. Elke moordsaak verdien die aandag wat my ouers se saak gekry het.”

Jo-An het die ondersoekbeampte, sers. Dalmain Morris, die staatsaanklaer, adv. Jennifer Cronje en AfriForum se veiligheid- en traumaspan geloof vir hul werk en die wyse waarop die gesin bygestaan is. “Ek weet nie hoe ander gesinne soortgelyke gebeure sonder hierdie soort bystand en leiding hanteer nie. Ons was in hierdie opsig baie gelukkig gewees.”

Magda Coetzee, ’n slagofferondersteuner van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid, was die afgelope week saam met die familie in die hof en het gesê dat dit vir die eenheid veral belangrik is om slagoffers tydens hofverrigtinge by te staan.

“Dit is verskriklik traumaties vir slagoffers om in die hof te verskyn. Hulle herleef nie net die tragiese gebeure waardeur hulle of hulle geliefdes was nie, maar verstaan nie altyd die prosesse of tegniese aspekte van die hof nie. Ons wil dié proses vir hulle bietjie makliker maak.”

Die moordenaars word op 6 April gevonnis.

Soortgelyke plasings