|

Gesloer in hof vererger naasbestaandes se trauma

Die familielede van Isabel van Coller is Maandag vir die soveelste keer verpletter nadat haar vermeende moordenaar in die Hooggeregshof in Johannesburg verskyn het, maar die getuie nou weer soek is.

Biazza Goliath het op aanklagte van roof en moord verskyn. Van Coller is op 15 November 2019 in Bramley, Johannesburg, tydens ’n kaping doodgeskiet. Verdagtes is kort daarna met haar selfoon in hul besit gearresteer. In ’n kringtelevisie opname kan gesien word hoe Van Coller in haar motor geskiet word. Daarna word sy uitgeruk en die aanvallers jaag met haar motor weg.

Familielede van die oorledene insluitend haar tweelingsuster Harriet Ackermann, haar broer Ferdinand van Zyl en sy vrou Jackie was Maandag in die hof net om te hoor dat een van die getuies nie opgedaag het nie en die saak na 3 Oktober uitgestel is. “Dis uiters teleurstellend dat die saak uitgestel is,” sê Ackermann, ’n senior aanklaer van Oos-Londen.

“Die saak het omtrent glad nie gevorder nie en dit was eers toe AfriForum betrokke geraak het wat daar iets begin gebeur het.”

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie omrede hul van mening was dat daar nie genoegsame bewyse is nie. Die saak is onttrek sonder dat Van Coller se naasbestaandes enigsins gekonsulteer is. Niemand sou dus vir die dood van Van Coller vervolg word nie.

Isabel van Coller

Van Coller se familede het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Hulle het in Mei 2021 vertoë aan adv. Masenyani Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolging in Suid-Gauteng (DOV) gerig. Die saak is daarna weer op die rol geplaas en na die hooggeregshof oorgeplaas.

Ná AfriForum se vertoë het die NVG egter te kenne gegee dat hulle twee van die verdagtes, wat na bewering betrokke was by die kaping, kon opspoor en dat een persoon nou ’n staatsgetuie is kragtens artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977 in die saak teen die vermeende moordenaar. Dit is hierdie getuie wat nou weer deur die ondersoekbeampte opgespoor moet word.

Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid

Die saak is van die begin af gekenmerk deur probleme. Die dossier het by geleentheid weggeraak en moes van vooraf opgebou word en die staat het nooit ’n lasbrief vir die getuie se verskyning Maandag in die hof uitgereik nie.

“Die staat se onvermoë om die getuie voor die hof te kry beteken dat geregtigheid weereens vertraag word. Die gemeenskap het ’n reg om te weet waarom hierdie getuie nie deur die polisie gemonitor is en in die hof kon getuig nie. Die staat se gebrek aan kommunikasie met die familie kan ook nie verskoon word nie en die blote feit dat die staat nie gevra het vir die uitreiking van ’n lasbrief nie, is tekenend dat die getuie nooit gedagvaar is nie,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Ackermann het tydens ’n video-onderhoud gesê dat sy en ander familielede nog met sekondêre trauma sukkel en dat die uitstel van die saak die trauma net vererger.

Harriet Ackermann, die oorledene se tweelingsuster

Soortgelyke plasings