|

Gesonde oordeel is nou van kardinale belang

Suid-Afrikaners is nou reeds vir meer as 60 dae weens die staat van inperking in ongewone omstandighede vasgevang.

Die uitwerking van die Covid-19-pandemie was en is steeds vernietigend.

Behalwe dat mense se werk, roetine, verhoudings, finansiële vermoë en waarskynlik ook algemene geestesgesondheid toenemend deur die impak van die pandemie geraak word, word hulle ook met wispelturige besluite en regulasies van die ANC-regering gekonfronteer.

Gewone wetsgehoorsame landsburgers kan tereg nou hul geduld begin verloor en in die proses verkeerde besluite neem wat hulself en ander baie skade kan berokken.

Die wyse waarop die regering die Covid-19-krisis hanteer, het mense uit die staanspoor moedeloos gemaak. Nie net is kleinsakeondernemings van regeringshulp uitgesluit nie, maar drakoniese maatreëls is afgekondig wat ongrondwetlik is en inbreuk op mense se basiese vryhede maak.

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners hul begin gereed maak dat die vlak van inperking binnekort van 4 na 3 afgeskuif kan word, wat sal beteken dat meer na hul werke kan terugkeer en meer vryheid van beweging sal hê, is die president besig om kat-en-muis-speletjies te speel. Suid-Afrikaners is al hoe meer in die duister oor wat hulle mag en nie mag doen nie, terwyl die owerhede versuim om behoorlik te kommunikeer.

Die feit dat dit al hoe meer begin lyk of die regering nie in beheer van die bestuur en die bestryding van die Korona-virus is nie, skep al hoe meer wantroue by landsburgers.

Voeg daarby die onnodige aanval op iemand soos prof. Glenda Grey, een van die voorste wetenskaplikes in die land en president van die Mediese Navorsingsraad, en jy het ’n resep vir al hoe meer ongehoorsaamheid aan die kant van die burgery.

Die rookverbod, wat sonder twyfel feitlik net die stempel van goedkeuring van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dra het reeds tot grootskaalse onwettige tabakhandel gelei.

As die regering, en by name pres. Cyril Ramaphosa, voortgaan om landsburgers soos kinders te behandel en hulle in die duister hou, gaan nog meer onwettighede en onwettige optrede baie vinnig begin posvat.

Dit is ironies dat die regering nie besef dat sy hantering van die krisis elke dag tot ’n nóg groterwordende krisis op talle vlakke bydra nie. As al hoe meer gewone mense uit woede en weens wantroue in die regering as’t ware die reg in eie hande gaan begin neem om hul ondernemings weer aan die gang te kry of ’n inkomste te verdien om te oorleef, gaan dit te laat wees om die impak van die virus te keer.

As al hoe meer mense hulle al hoe minder aan die regering en regulasies gaan begin steur, is dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat baie meer mense siek gaan word en selfs sal sterf. Daarom is dit nou belangrik dat elke individu homself moet afvra wat die regte ding is om nou te doen. Elke Suid-Afrikaner het ’n plig, om ondanks hierdie moeilike en uitdagende tye, steeds verantwoordelik én gesond op te tree. Verantwoordelik teenoor hulself en teenoor mekaar.

 

Soortgelyke plasings