|

Gesteelde Eskom-kabels teruggevind

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het op 13 Maart gesteelde kabels van Eskom in ’n veld in Bultfontein, noord van Pretoria, teruggevind.

Die verdagtes het Eskom se aluminium kabels van die pale by ’n nabygeleë plaas afgesny. Hulp is ontbied en die buurtwaglede het met verdere ondersoek in die veld op die kabels afgekom. Die misdadigers het vermoedelik in hul haas om te vlug ook die toerusting wat gebruik is om die kabels af te sny, agtergelaat.

Die Tshwane-metropolisie se kabeldiefstaleenheid was vinnig op toneel en het op die gesteelde kabels en toerusting beslag gelê.

“Dit is belangrik dat AfriForum en die gemeenskap saam met die Tshwane-metropolisie werk om ons gemeenskappe veilig te hou. Volgens die metropolisielede op toneel word die aluminium kabels gebruik vir onwettige elektrisiteitsverbindings,” sê Tarien Cooks, voorsitter van die Apiesrivier-tak.

“Dit is al herhaaldelik bewys hoe waardevol dit is wanneer ’n gemeenskap by hul plaaslike AfriForum-buurtwag aansluit en met ander veiligheidstrukture saamwerk om hul gemeenskap te beveilig,” sluit Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid in die noordstreek, af.

Soortgelyke plasings