|

Geweld en brandstigting spoel oor na NWU se Mahikeng-kampus

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die NWU se Mahikeng-kampus sal vir ‘n onbepaalde tyd gesluit wees nadat wydverpreide brandskade Woensdagaand aan verskeie geboue op die kampus aangerig was.

Koos Degenaar, woordvoerder van die kampus, sê studente is aangeraai om die kampus onmiddellik te verlaat en om terug te keer huistoe, ter wille van hul eie veiligheid. “Dit gaan ‘n geruime tyd wees voordat kampusaktiwiteite hervat word. Studente sal ten minste ‘n maand se kennisgewing ontvang indien die kampus heropen.”

Volgens Degenaar is die inhuldiging van die nuut aangewysde Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) vir die kampus Woensdagoggend ontwrig deur ’n groep studente. Hulle behoort glo aan die EFF-studentebevelstruktuur en is ondersteuners van Linda (Benz) Mabengwane, voorsitter van die ontbinde studenteraad.

“Die aanvanklike betogings het buite die Great Hall begin, waarna dit na binne uitgekring het. Terwyl sprekers die studente toegespreek het, is die geleentheid deur ’n gesingery en geskree ontwrig.”

Volgens Degenaar het Mabengwane na die geleentheid by die kampus aangekom en ‘n groep studente toegespreek. Sekuriteit wat op die kampus ontplooi is, het die groep uiteengejaag, wat tot botsings tussen hulle en die studente gelei het.

“Sekuriteit moes traangas en rubberkoeëls gebruik om die situasie onder beheer te kry. Die studente het sekuriteit met klippe bestook, wat tot verdere teenreaksie gelei het.”

Hy het gesê dat voorvalle teen laatmiddag aangemeld is waar studente ’n motorfiets wat aan ’n personeellid behoort het, asook ’n sleepwa van die sekuriteitsmaatskappy aan die brand gesteek het. Die personeel-kafeteria is ook geplunder. Studente het voortgegaan om verskeie geboue op die kampus aan die brand te steek, waarvan die administrasiegebou hul hoofteiken was.

“Hierdie gebou is in totaliteit vernietig, insluitend alle amptelike rekords en databasisse. Na berekening beloop die skade miljoene rande,” het Degenaar gesê.

Arrestasies is klaarblyklik gemaak, maar dit kan nie in hierdie stadium formeel bevestig word nie.

Degenaar het aan Forum Nuus gesê dat die universiteit ‘n hofinderdik teen Mabengwane gekry het nadat hy klasse asook die registrasieproses vroeër vanjaar ontwrig het deur studente aan te moedig om nie te registreer nie totdat kampusbestuur aan hul eise voldoen. “Hy het die interdik verontagsaam en is tydelik geskors.”

Degenaar het voorts verduidelik dat studente op 15 Februarie simpatie getoon het tydens Mabengwane se tugverhoor en daarna ook aan protesaksies deelgeneem het om hul ontevredenheid oor sy moontlike skorsing te toon. “ ‘n Groep betogers het toe die klas ontwrig waar ‘n vrouedosent hardhandig teen die bors gestamp is.”

Verskeie dosente van die Mahikeng-kampus het hul kommer oor die toedrag van sake uitgespreek. “Die akademiese program is ontwrig en dit gaan baie moeilik wees, indien enigsins, om spertye rondom klasse en onderrig te na te kom. Akademici werk onder uiters bedenklike omstandighede en dit wil voorkom asof bestuur geen beheer oor die situasie het nie. Werknemers se eiendom is ook beskadig en hulle is ingelig dat hulle self vir die skade verantwoordelik is. Daar sal dringend ingryping van buite moet kom om te verhoed dat die situasie op hierdie kampus en landwyd totaal buite beheer raak,” het ’n dosent gesê wat uit vrees anoniem wil bly.

Die burgerregte-waghond AfriForum se jeugtakke in Potchefstroom en die Vaaldriehoek is Woensdagaand ingelig dat gewelddadige protesaksies ook op die kampusse verwag kan word. Jacqueline Muller, ondervoorsitter van AfriForum Jeug se Vaaldriehoek-tak, het ‘n brief aan kampusbestuur gestuur om die moontlike gevaar onder hul aandag te bring.

Linda du Plessis, waarnemende visekanselier van die Vaaldriehoek-kampus, het AfriForum Jeug bedank vir hul waaksaamheid. Sy het in ‘n e-pos aan die jeugtak gesê dat die bestuur reeds op verskeie platforms oor die moontlike protesaksies gekommunikeer het.

Sy het aan Forum Nuus gesê  bestuur is nie noodwendig bekommer oor soortgelyke geweld nie, maar hulle is op hul hoede. “Ons sien wat by ander kampusse en universiteite gebeur en probeer alles in ons vermoë om ons studente te beskerm.”

 

 

Soortgelyke plasings