|

Gewese EFF-adjunkhoof beboet vir beskadiging van standbeeld

’n Aktivis verbonde aan die EFF moet ’n boete van R6000 afbetaal nadat hy vier jaar gelede die standbeeld van ’n Boerekryger uit die Anglo-Boereoorlog in Uitenhage beskadig het.

Ellijah Madwara, ’n voormalige adjunkhoof van die EFF, word R4 000 beboet vir saakbeskadiging en ’n addisionele R2 000 omdat hy ’n polisiebeampte probeer verhinder het om sy werk te doen.

Dít volg na twee ooggetuies gesien het hoe Madwara en ’n medepligtige die beeld stukkend probeer kap het. Die ooggetuies het die voorval op ’n selfoonvideo opgeneem.

Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sê hoewel die burgerregte-organisasie die uitspraak verwelkom, dit tragies lig van aard is.

“In September 2016 het die Internasionale Strafhof in den Haag ‘n interessante presedent geskep toe dit ‘n straf van nege jaar aan ‘n erfenisskender opgelê het. In Suid-Afrika is uitsprake van die aard beslis ook nie algemeen nie. Ten minste is die oortreder nie net oorgesien, soos wat met die daders op die UK-kampus gebeur het nie,” meen Bailey.

Sy sê voorts dat erfenisbeskadiging in ’n ernstige lig beskou moet word omdat dit gemeenskappe in die land net verder polariseer, wat uiters gevaarlik onder die huidige gespanne toestande tussen Suid-Afrikaners is.

Sy het ook daarop gewys dat openbare saakbeskadiging vir politieke gewin die land miljarde kos.

“Die minister van hoër onderwys en opleiding het onlangs bevestig dat die Fees Must Fall-protes tersiêre instellings meer as R800-miljoen gekos het en Kaapstad gaan gebuk onder ‘n vlaag treinbrande.  Die gety van vandalisme moet met aanspreeklikheid gestuit word en populiste mag nie langer toegelaat word om erfenisbakens as goedkoop teikens te misbruik nie.”

Madwara het gesê dat hy moeg is vir hierdie saak en daarom nou net die boete betaal. “Ek het regtig nie lus om te appelleer nie. Ek kan nie bekostig om enige verdere geld en werktyd te verloor nie. Ek het verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar en dit op myself geneem, sonder om my kamerade te betrek.”

Volgens Bailey dui Madwara se reaksie op die saak op ‘n tragiese gebrek aan respek vir die erfenis wat hy geskaad het.

“Hy skep die indruk dat dit hom eintlik net verontrief het om aanspreeklikheid vir sy dade te aanvaar.  Hopelik sal die boete hom tot nadenke  stem en ook voornemende vandale waarsku om twee keer te dink.”

Soortgelyke plasings