|

Gids vrygestel om skole met hul geldsake te help

Die Solidariteit Beweging het ’n omvattende gids bekend gestel om skole te help om hul fondse selfstandig te bestuur.

Dit volg ná ’n onlangse onderwysberaad van die beweging waar tot die slotsom gekom is dat ’n strategie vir groter selfstandigheid van Afrikaanse openbare skole dringend nodig is. Dié skole word toenemend deur die staat geteiken en is onder enorme druk.

Die skole kry ’n minimale subsidie van die staat en is op hulself aangewese om al hoe meer en al hoe beter planne te beraam om gehalte-onderrig te verseker en finansieel te oorleef.

Melanie Buys, onderwyskenner, het die gids opgestel. Sy het vroeër haar meestersgraad voltooi en na plaaslike en internasionale modelle gaan kyk oor wat skole kan doen om hul selfstandigheid te verhoog.

Buys meen die behoefte aan befondsing om beperkte staatsubsidie aan te vul, is die dryfveer vir toenemende privatisering en selfstandigheid van Afrikaanse openbare skole.

Volgens Buys is daar nog net 145 Afrikaanse openbare en onafhanklike skole in Gauteng oor.

Sy het gesê groter selfstandigheid op skoolvlak vorm wêreldwyd deel van suksesvolle omdraaistrategieë in onderpresterende skole. “Skole se prestasie verhoog betekenisvol wanneer hulle die vryheid kry om self te besluit oor aanstellings, hernuwing van kontrakte, erkenning van personeelprestasie, die akademiese program en die toewysing van bronne. Groter selfstandigheid van openbare skole in Suid-Afrika hou dieselfde voordele in.”

Buys meen die faktore wat privatisering van openbare skole aanhelp, is onvoldoende staatsubsidie en posvoorsiening, vrystelling van skoolgeld, styging in openbare skole se uitgawes en kapitaalverbeterings ter wille van gehalte-onderrig.

Wat die strategie vir groter selfstandigheid vir Afrikaanse skole betref, wys Buys op die volgende:

  • Regulatoriese kwessies waarvoor daar druk op die regering geplaas moet word;
  • Delegering van magte aan skole met ’n bewese rekord van goeie bestuur;
  • Finansiering van skole met ’n koeponstelsel waar geld die leerling volg; en
  • Die formele regulering van billike vergoeding vir skoolgeldvrystellings.

Buys wys daarop dat hoewel druk op die regering geplaas moet word om wetgewing te verander, kan Afrikaanse skole en gemeenskappe hul selfstandigheid ook vergroot deur private befondsing bloot anders te benader.

Daar moet gekyk word hoe ondernemings met wedersydse voordelige projekte by befondsing van skole betrek kan word en hoe ’n volhoubare inkomstestroom geskep kan word deur byvoorbeeld eenmalige of jaarlikse funksies of feeste aan te bied.

Voorts kan onafhanklike regsentiteite gebruik word om bykomende fondse te bestuur, terwyl skenkerverhoudinge aktief bestuur kan word. Skoolgemeenskappe kan byvoorbeeld vrywillige verenigings, trusts of maatskappye sonder winsoogmerk gebruik om skenkings, vrywillige bydraes en fondsinsamelings te bestuur.

Vir meer inligting kliek hier: https://solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2016/11/gids_vir_selfstandige_fondsbestuur_in_skole_web1.pdf

Soortgelyke plasings