GOP-vergaderings uitgestel ná AfriForum se Senekal-tak ’n versoek rig


Ná AfriForum se Senekal-tak op 11 Desember 2017 ’n skrywe aan die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit gerig het waarin hul versoek dat twee publieke vergaderings wat geskeduleer is vir 13 en 14 Desember uitgestel word na nuwe datums, het die burgemeester van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit, Nthateng Maoke, op 12 Desember kennis gegee dat die vergaderings wel uitgestel sal word en ‘n nuwe datum mettertyd gekommunikeer sal word.
Dié betrokke vergaderings word bygewoon deur ’n gemeenskapsverteenwoordigende forum soos vereis deur Artikel 15 van Plaaslike Regering: Munisipale Beplanning- en Prestasieregulasies (796 van 2001) en speel ’n belangrike rol in die hersiening van die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir 2017/2018.
Die AfriForum-tak in Senekal het beswaar aangeteken teen die beplande vergaderings weens die feit dat daar nie ’n uitnodiging aan al die belanghebbende partye van Senekal en omliggende dorpe gestuur is nie en die uitnodiging wat wel uitgegaan het, is op baie kort kennisgewing gestuur wat inwoners nie in staat gestel het om die nodige dokumentasie betyds te kon bestudeer nie.
Voorts is die uitnodiging na die vergaderings eers op 4 Desember uitgestuur en ingevolge die bogenoemde regulasies moet daar ten minste 14 dae voor die tyd kennis gegee word sodat belanghebbendes die betrokke GOP-dokumentasie kan bestudeer. Kennisgewing van die vergaderings kan ook nie op die munisipaliteit se webtuiste gevind word nie en die laaste dokumentasie rakende die GOP is in Maart 2017 gelaai. Daar was ook ongelukkigheid omdat inwoners en gemeenskapsleiers van dorpe soos Clocolan en Marquard, wat deel vorm van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit, nie na die beplande vergaderings genooi is nie. Die feit dat die vergaderings in die middel van Desember sou plaasvind wanneer meeste inwoners reeds met vakansie is, was ook as onaanvaarbaar beskou.
Gevolglik het Mike Odendaal, voorsitter van AfriForum se Senekal-tak, versoek dat die vergaderings uitgestel word na ’n nuwe datum in 2018, met 14 dae voorafgaande kennisgewing, en dat alle GOP-verwante dokumentasie betyds aan belanghebbende partye gestuur word. Daar is ook versoek dat die lys van belanghebbendes wat genooi is uitgebrei word na organisasies wat nie na die eerste vergaderings genooi is nie, insluitend AfriForum se Senekal-tak, die Senekal-buurtwag en die Senekal-landbou-unie.

“Ons is dankbaar vir die uitstel en sien uit om die konsepweergawe van die GOP te ontvang sodat ons dit kan bestudeer en dan ‘n betekenisvolle bydrae kan lewer tot die toekoms van ons dorp,” sê Odendaal.

Soortgelyke plasings