|

Gouws-verhoor: Vriendin vertel van slagoffer se trauma; vervolging sluit saak af

Dafré Troskie, ’n jare lange vriendin van Celeste Gouws, het vandag getuig in die privaatvervolgingsaak van Andile Memese wat teregstaan op een klag van verkragting en ’n klag van huisbraak met die doel om te verkrag. Die privaatvervolgingseenheid het vandag sy saak vir die vervolging afgesluit waarna die beskuldigde se regspan aangedui het dat hulle ’n aansoek om ontslag in terme van artikel 174 van die Strafproseswet gaan bring. Dié aansoek sal op 26 tot 28 Julie geargumenteer word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, verteenwoordig Gouws in hierdie saak. Gouws is na bewering op die aand van 2 September 2017 in haar eie huis deur Memese verkrag nadat hy na bewering by haar huis ingebreek het.

Troskie, ’n apteker van beroep, het getuig dat sy die oggend ná die beweerde verkragting vir Gouws gaan kuier waarna Gouws haar van die verkragting vertel het. Sy het ook getuig van die trauma wat Gouws beleef het, asook dat Memese vir Celeste op daardie oggend (in Troskie se teenwoordigheid) gebel het en gevra het om nie ’n saak teen hom te maak nie. In ’n dramatiese oomblik het sy haar eie trauma gedeel en aangedui dat baie min mense die werklike trauma van verkragting kan begryp. Sy het aangevoer dat ’n vrou nie verkwalik kan word oor haar optrede ná ’n verkragtingsvoorval nie – dit het haar vyf maande geneem om haar trauma te erken.

Roy Schuin, die persoon wat destyds die CCTV-kameras in Gouws se huis geïnstalleer het, het ook vandag getuig. Troskie het versoek dat Schuin die beeldmateriaal van die aand van 2 September moes bekom en hy het dit op die daaropvolgende dag afgelaai, waarna hy opgemerk het dat die kragprop van die kamerastelsel uitgeprop was. Hierdie kragprop was in Gouws se slaapkamer.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, kan die afleiding gemaak word dat iemand slegs die CCTV-kameras sou wou uitprop omdat hierdie persoon nie wil hê dat die daaropvolgende gebeure opgeneem word nie. “Ons is vol vertroue dat ons ’n sterk saak aangebied het en dat ’n aansoek om ontslag nie suksesvol sal wees nie. Ons het aangedui dat ons gereed was om die aansoek te argumenteer en sal nie deur die klaarblyklike vertragingstaktiek van die verdedigingspan ontmoedig word nie. Ons sal nie moeg word in ons strewe na geregtigheid vir die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld nie.” 

Soortgelyke plasings