Graad 1- en 8-leerders slagoffers van skoolplasingsisteem vir 2019


Die burgerregteorganisasie AfriForum was vanoggend verteenwoordig by ‘n mediakonferensie wat deur die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, rakende probleme met skoolplasings van graad 1- en 8-leerders in 2019 gehou is.
‘n Totaal van 282 823 aansoeke is ontvang deur die aanlynskoolregistrasiestelsel wat van 16 tot 28 Mei 2018 oop was. Daarvan was 149 461 graad 1-registrasies en 133 362 vir graad 8.
Ná die sluiting van die stelsel, is 248 866 leerders geplaas. Van die oorblywende 33 957 leerders was slegs 6 879 se aansoeke volledig. Ouers word versoek om geduldig tot 5 November 2018 te wag om finaal te hoor waar hulle kinders geplaas sal word.
Carien Bloem, koördineerder van AfriForum se onderwysprojekte, het die vergadering bygewoon en berig dat leerders volgens die departement geplaas sal word in skole wat plek beskikbaar het. ‘n Beroep word deur die departement op ouers gedoen om dit so te aanvaar.

“Verder noem die departement dat ouers moet weet dat plasing in die skool van hulle keuse nie gewaarborg kan word nie. Lesufi het bygevoeg dat hierdie ‘n manier is waarop die rug van ‘apartheidskole’ gebreek kan word. Hy het verklaar dat ouers nie kieskeurig moet wees oor die onderrig wat hulle kinders kry of met wie hulle speel nie,” sê Bloem.

Bloem voeg by dat hierdie plasingsprobleme wat jaarliks herhaal, veroorsaak dat ouers en leerders slagoffers van die sisteem word. Leerders se toegang tot gehalte-onderrig ly hieronder omdat daar soveel disfunksionele skole in die provinsie is wat die departement nie regruk nie. Skole in Kempton Park, Centurion, Fourways en die suide van Johannesburg is heeltemal vol en getalle is van 40 na 59 leerders per klas vergroot, wat beslis nadelig vir die gehalte van onderrig van die leerders sal wees.

Bloem sê ‘n verdere probleem is dat leerders in skole geplaas word met ‘n onderrigtaal wat hulle nie behoorlik magtig is nie, wat hulle die reg tot moedertaalonderrig heeltemal misken en hulle prestasie raak. “Lesufi se uitlatings onderstreep die indruk dat sy fokus steeds op ‘n vendetta teen Afrikaans is, in plaas van die uitdaging om ‘n steeds groeiende leerdergroep te akkommodeer terwyl hulle reg tot moedertaalonderrig beskerm en uitgebou word. Dit veroorsaak onnodige polarisasie en spanning in die onderwysgemeenskap van Gauteng,” sê sy.

Praktiese advies wat aangebied is, sluit in dat ouers wat steeds geen nuus oor die plasing van hulle kinders ontvang het nie, dringend die onderwysdepartement moet kontak deur ‘n e-pos na admissions.hotline@gauteng.gov.za te stuur om ‘n lys van skole te ontvang waar daar nog plek is.
Ouers kan ook by hulle plaaslike distrikskantoor gaan appelleer teen hulle kinders se plasing. AfriForum ondervind egter dat hierdie proses tot nou toe nie veel sukses opgelewer het nie.

Soortgelyke plasings