|

Groen vuurwapenlisensies weer onder die loep

AfriForum is van mening dat die nuwe toedrag van sake rakende die groen vuurwapenlisensies verreikende gevolge vir die groot hoeveelheid houers van groen lisensies inhou. Dit volg nadat SA Jagters op 8 September ’n brief van die staatsprokureur se kantoor ontvang het wat die vereniging meedeel dat Bheki Cele, minister van polisie, van voorneme is om die tussentydse hofbevel tersyde te laat stel wat die besit van groen lisensies – uitgereik kragtens die herroepte Wet op Wapens en Ammunisie (75 van 1969) – beskerm.

SA Jagters het reeds in 2009 ’n aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria gebring en die voorsittende regter het ’n tussentydse hofbevel ten gunste van die applikant uitgereik.

Die brief lui verder dat houers van groen lisensies die afgelope dekade van drie amnestieperiodes gebruik kon maak om die nuwe wit vuurwapenlisensiekaarte ingevolge die nuwe Wet op Beheer van Vuurwapens (60 van 2000) te bekom. Die nuutste amnestieperiode is tans tot en met Januarie 2021 van krag waartydens eienaars van ongelisensieerde vuurwapens dit by hul naaste polisiestasie kan gaan ingee sonder om vervolg te word vir die besit van sodanige vuurwapen. Eienaars van lisensies wat reeds verval het, kry voorts die geleentheid om die wapen in te handig en van voor af aansoek te doen vir die vuurwapenlisensie. Die wapen kan daarna weer afgehaal word indien die aansoek suksesvol was en die applikant in besit is van die nuwe lisensie.

“Indien die tussentydse hofbevel tersyde gestel word, sal die houer van ’n groen lisensie geag word om in onwettige besit van ’n vuurwapen te wees, aangesien die bevel nie meer daar sal wees om die eienaar te beskerm nie. Die eienaar sal dus nie ’n geldige rede hê om in besit van die wapen te wees nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

“SA Jagters sal in alle waarskynlikheid met die staatsprokureur vergader om die aangeleentheid te bespreek en om tot ’n moontlike vergelyk te kom. Dit sal egter raadsaam wees vir houers van groen lisensies om hul opsies te oorweeg, soos om gebruik te maak van die huidige amnestieperiode,” sluit Kamfer af.

Ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens (60 van 2000) kan ’n persoon wat skuldig bevind word aan die onwettige besit van ’n vuurwapen tot 15 jaar tronkstraf opgelê word.

Soortgelyke plasings