|

Grondgrypers buite Brits vasgevat

Die sakeregtewaghond AfriSake het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die balju van Brits en die Rooimiere talle onwettige grondgrypers en sowat 100 plakkershutte suksesvol laat verwyder.

Dit kom nadat AfriSake en drie aansoekers op 29 Junie 2016 ʼn tussentydse bevel in die hooggeregshof in Pretoria gekry het om dié onwettige eiendomsbesetters van die betrokke eiendomme te verwyder.

Van die besetters was ontstoke en het gedreig om die naburige skool, die Hoërskool Wagpos, af te brand waarna AfriSake die skool ingelig het om waaksaam te wees. Luidens mediaberigte het van die ongelukkige besetters ook klippe na die polisie gegooi.

Volgens Stefan Pieterse, woordvoerder vir AfriSake, is hierdie ʼn groot oorwinning vir eiendomsreg omdat dit ʼn grondwetlike reg is en individue hierdie reg moet afdwing. “Twee van die drie aansoekers was weduwees met geen ander hulpbronne nie en was genoodsaak om AfriSake te nader vir die uitsetting van dié grondgrypers.”

Pieterse sê voorts dat hierdie ʼn uiterse suksesvolle operasie was waar alle betrokke partye goed saamgewerk het.

“Ná Julius Malema se onverantwoordelike uitsprake rondom onwettige grondbesit, het ons ʼn styging in onwettige grondgrype regoor die land gesien,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

“AfriSake sal nie toelaat dat grondgrypers eiendomsreg in Suid-Afrika bedreig of oortree nie en sal voortgaan om wetsgehoorsaamheid te beskerm en te handhaaf,” meen Greyling.

AfriSake gaan op 18 Augustus 2016 weer hof toe om die tussentydse bevel te bekragtig.

Soortgelyke plasings