|

Groot belegging gaan in Afrikaanse opleiding gemaak word

Beraadgangers wat die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad vandag in Pretoria bywoon, het gehoor dat meer as R1 miljard oor die volgende vyf jaar in Afrikaanse opleiding belê gaan word.

Die beweging se onderwysplan strek van kleuterskool tot ’n privaat Afrikaanse universiteit. Die verwagting is dat Akademia teen 2020 sowat 2 000 studente sal hê  en meer as 24 sentrums word regoor die land beplan.

Dit sluit ook ’n voedingsprojek vir meer as 4 000 kleuters by 60 kleuterskole landwyd in, 25 000 skooltassies vir gr. 1’s en ondersteuning aan 560 Afrikaanse skole.

Die tegniese kollege Sol-Tech gaan uitgebou word en honderde onderwysers gaan deur  die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) opgelei word.

Volgens die plan gaan Solidariteit Helpende Hand se studiefonds wat reeds meer as R73 miljoen uitbetaal het om 4 300 studente te help, oor vier jaar R100 miljoen per jaar aan studiehulp gee, het dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, gesê.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die burgerregte-waghond sal ook die verantwoordelikheid neem om die onderwysregte van die Afrikaanse gemeenskap te beskerm en die belangrikheid van moedertaalonderrig sal deur veldtogte en aksies beklemtoon en uitgebou word.

Soortgelyke plasings