|

GROOT GELEENTHEID VIR DIEGENE MET DIGTERSBLOED IN HUL ARE

Deur Alet Rademeyer

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) bied vanjaar sy 17de digkompetisie vir digters en aspirantdigters aan.

Die geleentheid val saam met die viering van Afrikaanse Taaldag (14 Augustus) wat die afgelope naweek by die Voortrekkermonument in samewerking met die monument, die FAK, die ATKV Centurion-tak en die Musiekforum aangebied is.

Belangstellendes, wat vir die kompetisie met ’n prysgeld van R16 000 wil inskryf, kan in elf kategorieë/afdelings deelneem naamlik skool/onderwys; plaaslewe; Orania; geestelik; liefde; natuur; mymeringe; terapeuties; ek sal weer opstaan; verset teen onreg; algemeen en Die Voortrekkers.

André Alkema, voorsitter van die GHA, sê daar is verskeie redes waarom ’n digkompetisie soos hierdie in Afrikaans belangrik is. “Poësie is ’n goeie medium om literêre protes teen die onbeholpenheid van die staat en die vertrapping van menseregte aan te teken. Daarbenewens het dit groot terapeutiese waarde in die sin dat dit die skrywer/digter kan help om te genees of trauma te verwerk.

“Digkuns is ’n besondere kunsvorm en bied groot uitdagings aan woordkunstenaars om deur ritme, rym, beeldspraak en emosie ’n nuwe bewussyn van eiewaarde te skep wat vir ons volk, kinders en kleinkinders van groot waarde en betekenis kan wees.”

Volgens Alkema verryk die digkuns ook Afrikaans as taal veral in ’n tyd wat dit onder groot druk verkeer en op vele terreine misken word. Daarom is dit  belangrik dat dit nie net geskryf word nie, maar ook gelees, voorgedra en gesing word.”

Dr. Dirk Hermann, beskermheer van die GHA, het tydens die bekendmaking van 2020 se wenners vroeër vanjaar en met verwysing na die impak van die COVID-pandemie gesê: “Daar is iets wat nie ingeperk kan word nie. iets wat geen regering kan toemaak nie. Dit is ons woorde. Terwyl die land toe, ingeperk en onseker is, begin digters dig en maak die wêreld om ons oop.”

Meinhard Peters, stigterslid van die GHA, skryf oor die taakstelling van die genootskap, dat dit alle Afrikaners roep tot ‘n beweging vir Afrikaans, ‘n beweging wat verbeeldingryk en doelgerig werk om die taal in ons vaderland na nuwe hoogtes te voer, ‘n beweging toegewy aan Afrikaans met die wil om ons taal op elke lewensterrein en in elke samelewingskring te handhaaf.

Die gedigte wat ingeskryf word, sal in Stemme uit die Suiderland  opgeneem word. Die wenners van die kompetisie sal op 29 Januarie 2022 in die AfriForum Teater in Pretoria aangewys word. Dié geleentheid sal saamval met die 28ste verjaardagviering van die GHA.

Inligting oor die digkompetisie is beskikbaar op die GHA se webwerf by www.afrikaans.org.za.

Soortgelyke plasings