|

Groot laster-eis teen Kovsies wys universiteite moet na studente luister

Die laster-eis van miljoene teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) en prof. Jonathan Jansen, rektor van dié instelling, stuur ’n duidelike boodskap uit dat universiteite ’n plig het om studente ’n billike kans te gee om hul kant van ’n saak te stel.
Twee studente, Cobus Muller van Pongola en Charl Blom van Hertzogville het die universiteit en Jansen gedagvaar vir sowat R6 miljoen. Hulle word deur die regspan van AfriForum Jeug bygestaan en ondersteun. Die studente eis skadevergoeding vir vertraagde toetrede tot die arbeidsmark weens skorsing en vir verkwiste uitgawes soos klasgelde en lewensonderhoud.

Die saak spruit voort uit ’n voorval in Februarie verlede jaar toe Blom en Muller in ’n bakkie op die kampus gery byna ’n swart student en randsteen getref het.
Die voorval is as ’n rassevoorval bestempel en die twee is geskors en strafregtelik aangekla. Hulle is egter daarna in ’n hof en die Menseregtekommissie onskuldig bevind en vrygespreek.
’n Hoëronderwyskenner het aan Forum Nuus gesê dit is sover hy weet een van die eerste gevalle waar studente ’n rektor en universiteit van laster aankla en skadevergoeding eis. “Volgens inligting uit mediaberigte het dit gelyk of die studente nie ’n billike kans gehad het om hul kant van die saak te stel nie. “Daar rus ’n verpligting op ’n universiteit wat ’n ondersoek van enige aard doen om seker te maak dat alle partye ’n billike kans gegun word om hul saak te stel. Alle inligting en feite moet behoorlike beoordeel en in ag geneem word alvorens daar summier teen studente opgetree word.”
Volgens die kundige is dit moeilik om te voorspel of die studente suksesvol sal wees ten opsigte van die bedrag wat hulle eis. “Ek meen egter daar is kans op sukses om ’n beginselsaak te bewys.”

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die boodskap wat die organisasie namens studente wil uitstuur, is dat niemand onaantasbaar is nie. “Te veel studenteleiers of persone in gesagsposisies dink hulle kan sê en doen wat hulle wil sonder nagevolge.”
Maree het gesê hy hoop ook dat die saak universiteitsbesture twee keer sal laat dink oor hoe hulle voorvalle en klagtes van studente hanteer. “Dubbele standaarde moet uitgewis word en elke saak moet op meriete hanteer word. Daar kan nie toegelaat word dat ras of politiek die optrede van universiteite beïnvloed nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat instellings harder optree as slagoffers swart is en sake waar die slagoffers wit is as minder ernstig bestempel word.”
Die universiteit het vroeër by navraag gesê die eis sal nie in die media bespreek word nie.

Soortgelyke plasings